26.07.2007 Meatco-mense steek helpende hand uit
'n SENTRUM vir kwesbare en weeskinders is deur Meatco-personeel in Windhoek geïnisieer en deur die Adjunkminister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, me. Petrina Haingura, amptelik in die Okuryangava-woonbuurt geopen.
Die sentrum is geopen onder die leuse "Tukughamwene", die Kavango-terminologie vir "laat ons mekaar help".
Voordat me. Haingura die amptelike opening waargeneem het, het sy opgemerk dat dit wonderlik is van die gemeenskap om nog die verantwoordelikheid te aanvaar om die kinders op te voed. Sy het die inwoners versoek om na die sentrum om te sien om te verseker dat die kinders wat daar opgeneem word dieselfde toekomsgeleenthede as ander kinders kan geniet.
Die projek het in Januarie vanjaar afgeskop. Aan die spits was 'n groep Meatco-werknemers van die Windhoek abbatoir en met 'n finansiële hupstoot van N$10 000 deur die maatskappy is meubels gebou en verkoop. Die wins uit die verkope is weer in die sentrum gestort.
Die werknemers het die betrokke projek gekies weens die armoede wat by die sentrum in Ongava-straat in Okuryangava heers.
"Meeste van die mense wat in die area woon, is arm. Ons sien hoe die kinders swaarkry en dat die gemeenskap 'n sentrum soos hierdie nodig het. Ons wil die kinders van die straat hou en hulle besig hou met bedrywighede," het die adjunkvoorsitter van die geleentheid en ook wateroperateur van Windhoek se Meatco-aanleg, mnr. Alexander Munika, gesê.
Voorskoolse kwesbare en weeskinders word by die sentrum vir skool voorberei. Sodra hulle ouer word, sal die doel wees om hul lewensstandaard te verbeter deur die aanbieding van sportbedrywighede, hulle met huiswerk te help asook om geld aan hulle vir skoolfonds of die aankoop van skoolklere te voorsien.
Bykomend tot die maak van meubels om geld te genereer, het die vrywilligers hulle nou ook op die ontwerp en maak van uniforms begin toespits.
Die verrigtinge was bygewoon deur byna 400 mense wat gemeenskapsleiers, die adjunkburgemeester, me. Elaine Trepper, en die streekraadslid vir die Tobias Hainyeko kiesafdeling, mnr. Erastus Hendjala, ingesluit het.
|