30.09.2005 Kandara se GDO dalk in ope hof
ONDANKS die hoof van die polisie, lt-genl. Sebastian Ndeitunga, se mening dat nalatigheid deur die bevelvoerder van die eenheid vir ernstige misdrywe aanleiding gegee het tot mnr. Lazarus Kandara se dood, gaan die staat niemand in dié verband vervolg nie.
Hierdie gevolgtrekking van die Inspekteur-generaal is vervat in hofstukke wat deel uitgemaak het van gister se dringende aansoek deur hoofinsp. Oscar Sheehama waarin hy vra dat die Hoërhof die polisie gelas om sy skorsing tersyde te stel (sien berig op bl. 2).
Die Aanklaer-generaal (AG) sal dalk reeds vroeg aanstaande week sê of die geregtelike doodsondersoek na die vermeende selfmoord van mnr. Kandara in ope hof moet plaasvind en of landdros op grond van die getuienis op die dossier informele beslissing kan maak.
Die moontlikheid van 'n openbare ondersoek berus klaarblyklik nie op 'n vermoede dat iemand anders aanspreeklik was vir sy dood nie, maar die openbare belangstelling in die saak.
Mnr. Johnny Truter, adjunk-AG vir Windhoek, sê hy het deur die lywige dossier gewerk en sal dit Maandag aan adv. Martha Imalwa, die AG, voorlê. Hoewel hy hom nie oor besonderhede wou uitlaat nie, blyk dit dat geen ander dossier geopen gaan word nie.
Adv. Imalwa het vroeër aan joernaliste gesê dat haar kantoor op grond van getuienis dat iemand anders moontlik vir die dood van mnr. Kandara verantwoordelik was, tweede dossier sou open.
Mnr. Kandara, die sleutelfiguur in die omstrede Avid-sage, het die aand van 24 Augustus gesterf ná skoot deur die hart. Hy is dood enkele treë van die ingang na die hoofpolisiekantoor, waar die selle vir die langnaweek sy voorland was.
Mnr. Kandara is vroeër die aand in hegtenis geneem op aanklagte van vermeende bedrog en diefstal van dele van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (MVK) se N$30 miljoen-belegging by Avid, asook 'n verdere belegging van N$7 miljoen deur die Swapo-maatskappy Kalahari Holdings.
Volgens mnr. Truter moet die ondersoek vier kernvrae beantwoord. Die landdros moet duidelikheid hê oor die identiteit van die oorledene, die datum van sy of haar dood, die oorsaak van dood en of iemand anders vir die oorledene se dood aanspreeklik gehou kan word.
Die vele gerugte wat sedert mnr. Kandara se dood die rondte doen, het te make met die laaste vraag.
Mnr. Truter het aan Republikein gesê dit is uit die beskikbare inligting duidelik dat tweede dossier nie geopen gaan word nie. Die staat blyk dus tevrede te wees met die bewyse dat mnr. Kandara wel selfmoord gepleeg het.
Hy sê al waaroor nou nog besluit moet word, is of landdros informeel tot dié gevolgtrekking kan kom - dus buite die hof - en of die getuienis in ope hof gelei moet word. Vanweë die groot openbare belangstelling, gerugte dat dit nie selfmoord was nie en die wye mediadekking oor die aangeleentheid mag die AG dalk aanstaande week besluit om formele ondersoek te gelas.
|