24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

21.06.2007

Bomas plaas wildveiling in nuwe klas

DIE jaarlikse wildveiling van African Wildlife Services wat altyd per katalogus gehou is, gaan vanjaar op Okosongoro Safari Ranch in die Omaruru-omgewing aangebied word. Vir dié doel het die eienaar, mnr. Peter Clausen bomas ter waarde van etlike miljoene dollar op sy plaas opgerig.
Die veiling vind vanjaar op 7 Julie plaas en diere gaan lewendig asook per katalogus aangebied word. 'n Lewendige veiling word vanjaar gehou sodat voornemende kopers hulle van die diere van Okosongoro se kondisie en gehalte kan vergewis.
Die nuutste tegnologie is gebruik om veilingbomas op te rig, maar al die diere wat te koop aangebied word, sal nie daar gehuisves kan word nie aangesien alle diere nie goed in bomas aard nie.
Diere wat nie in die bomas aangehou kan word nie, sal per katalogus te koop aangebied word en sal direk van die veld gevang en na die kopers vervoer en afgelewer word om beserings en sterftes onder die diere tot 'n minimum te beperk.
Die veiling word deur African Wildlife Services van dr. H.-O. Reuter, 'n bekende wildlewe veearts en konsultant gehou. Dr. Reuter is ervare in die hantering van Namibiese wild, veral skaars spesies, en lewer dienste aan bewaringsorganisasies en ander belanghebbendes in die wildbedryf.
Die Okosongoro Safari Ranch is in die Omaruru-omgewing geleë en kan bereik word deur die aanwysings op die C33 teerpad tussen Omaruru en Kalkfeld te volg. Dit is sowat 38 km vanaf Omaruru en 33 km vanaf Kalkfeld geleë.
Okosongoro is een van Namibië se voorste en bes bestuurde wildplase wat bekendheid vir trofeejag, fotografie safari's en uitnemende sukses in die teel van 'n verskeidenheid wildsoorte verwerf het. Hierdie wildsoorte sluit in wit- en swartrenoster, swartwitpense, bastergemsbok, tsessebe, waterbok en die gewone impala.
Voornemende kopers kan die diere op die dag van die veiling vanaf 09:00 tot 13:45 besigtig waarna die veiling om 14:00 sal begin. Registrasie sal ook tussen 09:00 en 13:45 plaasvind.
Kopers moet self toesien dat hulle aan die permitvoorwaardes asook die voorwaardes van die veiling voldoen. Vir die lewendige verkoop van diere geld die standaard lewendige veiling voorwaardes wat onder meer behels dat die verkoper verantwoordelikheid vir die dier dra totdat die bod toegeslaan is op 'n koper. Hierna word alle risiko aan die koper oorgedra.
Vir die verkope per katalogus geld 'n afleweringsdatum van een maand na die veiling of twee maande soos by sekere lotte aangedui word. Die risiko berus by die verkoper totdat die diere binne die grense van Namibië afgelewer is.
Betaling wat op die dag van die veiling moet geskied, sal in die rekening van African Wildlife Services Trust geplaas word.
Kopers is ook self verantwoordelik vir die vervoer van die diere wat N$15 per kilometer, BTW uitgesluit, behels as net van vragmotors gebruik gemaak word. Sou 'n vragmotor en sleepwa gebruik word, beloop die koste N$17,50 per kilometer of soos anders vermeld.
Die diere wat te koop aangebied word, sluit in seekoeie, vier haltermak kamele, witrenosters, swart impala, swartwitpense, bastergemsbok, tsessebe, waterbok, kameelperde, sebra (Hartmann en Burchell), swart wildebeeste, volstruise, swartgesig impala, blesbok, basterwaterbok, niala en blouwildebees.
Vir meer inligting besoek die webwerf van dr. H.-O. Reuter by www.wildlife. com.na.