27.04.2005 Bateleur gaan pronk by lugskou
UNIEKE geleentheid wag die naweek op Namibiërs wanneer legendariese vliegtuig ingespan word om inwoners van dié land na Pretoria te neem om by die jaarlikse internasionale burgerlugvaart en handelskou oog te gaan gooi.
"Ons verteenwoordig die Namibiese burgerlugvaartbedryf en gaan self aan die lugskou met die klassieke DC-6 deelneem. Natuurlik wil ons bietjie met ons vliegtuig gaan spog ook," het mnr. Chris Schutte, eienaar van Namibia Commercial Aviation (NCA), vertel.
Die DC-6, by name Bateleur, is reeds blink gepolitoer en vertrek Vrydag om 07:00 vanaf die Eros lughawe via Lanseria na die Wonderboom lughawe, waar die skou aangebied word.
Dié ou dame van die lug is 1958-model en die enigste van haar soort in die wêreld wat nog passasiers kan vervoer. Dit is ook die laaste van haar soort wat gebou is en die laaste een met suiermotor.
Vroeëre jare was dit die presidensiële vliegtuig van Marshall Tito van Joego-Slawië en later jare dié van Kenneth Kaunda van Zambië. In dié land het die vliegtuig vir 17 jaar gestaan en is in 1992 deur NCA na Namibië gebring en gerestoureer.
In die laaste jaar of wat is NCA ywerig besig met beplanning om die DC-6 vir toerisme-geleenthede aan te wend en het al paar toetsvlugte vir dié ideaal onderneem.
Vandeesweek se geleentheid is deel van die poging om Namibiërs by dié toerisme-idee te betrek, maar ook geleentheid vir NCA om hul vlerke te sprei en dié idee in Suid-Afrika te verkoop.
Voordat dit egter kan gebeur, moet die vliegtuig nog volgelaai word.
"Op die oomblik is 25 sitplekke gevul, maar die vliegtuig kan 60 persone dra. Daarom kan belangstellendes ons nog skakel om deel te hê aan dié unieke rit," het mnr. Schutte gesê.
Kostes vir dié reis is effens gesny na N$2 650 per volwasse persoon. Vir kinders tussen die ouderdomme van 12 en 16 jaar kos kaartjie N$1 325. Dié twee pryse sluit retoervliegtuigkaartjies en toegang tot die lugskou in. Kinders onder 12 jaar kan kosteloos vlieg en moet net N$151 vir lughawebelasting betaal.
Die vliegtuig styg weer Maandag 2 Mei uit Pretoria op vir sy terugkeer na Namibië. Belangstellendes kan NCA by 061 223 562 skakel.
|