29.05.2007
Baken in Noorde geopen
PRESIDENT Hifikepunye Pohamba het die inisieerders van Ongwediva Medipark bedank vir hul toewyding om gesondheidsdienste na die mense te bring.
Pres. Pohamba was verlede week op Ongwediva waar hy die eerste volwaardige private hospitaal in die Oshana-streek amptelik geopen het.
"Dit is noemenswaardig in die lig van die nodige uitbreidings van gesondheidsdienste, die modernisering van dienslewering en die verbetering van die dienste sodat ons mense voordele uit die aanwending van nuwe tegnologie en oplossings rakende gesondheidsorg kan put," het mnr. Pohamba gesê.
"Ons in die Regering verwelkom hierdie ontwikkeling veral in die breë konteks van die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die land gesien," het hy gesê.
Die Medipark-hospitaal is 'n produk van die openbare/private vennootskap wat private beleggers, die Ongwediva dorpsraad en die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) insluit.
"Die Regering het die samewerking tussen die private en openbare sektore aangemoedig om groter stukrag aan die verbetering van dienslewering, nie net in die gesondheidsektor nie, maar ook in ander sektore van die ekonomie te verleen
"Ons het ook 'n beroep gedoen op die openbare en private sektore om kragte vir die ekonomiese ontwikkeling van die land, meestal op prioriteitgebiede soos gesondheid, onderwys en landbou te snoer. Wanneer ons saamwerk, kan ons vinniger vorentoe beweeg om ons nasionale ontwikkelingsdoelwitte te behaal," het President Pohamba gesê.
Volgens hom het die opening van hospitaal op 'n gepaste tyd plaasgevind.
Die bestuur van Ongwediva Medipark is van voorneme om 'n samewerkingsooreenkoms met staatshospitale in die Noorde te formaliseer om gesondheidsorg in die streek te verbeter.
"Ten opsigte van die lewering van gesondheidsorg, moet ons doel altyd wees dat ons ons mense die geleentheid bied om normale en gesonde lewens te lei," het President Pohamba gesê.
Hy is van mening dat met 'n laboratorium van NIP wat op die Mediparkperseel geleë is, die tyd verby is dat pasiënte dae lank vir die uitslae van toetse moet wag.
"Sulke vertragings het die lewering van gesondheidsdienste negatief beïnvloed. Ek hoop dat die dae van sulke vertragings nou iets van die verlede is."
Hy beskou die werkgeleenthede wat by die hospitaal geskep is en die feit dat jong Namibiërs by die projek betrokke is, as 'n bewys dat "ons jong mense" besig is om vordering te maak.
Hy het 'n beroep tot jong mense gerig om verder te studeer. Hy het verwys na 'n tydperk toe daar slegs twee sekondêre skole in die Noorde was en albei was kerkskole - Odibo en Oshigambo.
"Nou is die opleidingsgeriewe daar. Die bal is nou in die jongmense se hande en dit is nou hul plig om iets daarmee te doen," het hy gesê.
Die voorsitter van die hospitaal se raad van direkteure, mnr. David Imbili, het vertel hoe hy in 2000 die gedagte gehad het om 'n private hospitaal in die Noorde op te rig.
"Baie van die mense met wie ek dit bespreek het, was skepties en pessimisties oor die lewensvatbaarheid van so 'n projek in hierdie gebied. Dit was toe dat ek dr. Tshali Iithete genader het. Ons het eerstens die Ongwediva dorpsraad genader om seker te maak dat grond beskikbaar is. Grond was beskikbaar en die daarstelling van hospitaalgeriewe het deel van die dorpsraad se vyfjaar strategiese plan gevorm," het hy gesê.
Mnr. Imbili het ook vertel dat hy gevestigde gesondheidsinstellings van Suid-Afrika genader het, maar dat hulle geen belangstelling getoon het nie.
Hy het toe besluit om plaaslike individue en instellings te nader. Erongo Medical Services, die moedermaatskappy van die Welwitschia-hospitaal in Walvisbaai, het 'n tegniese vennoot van die projek geword.
"Ons het geweet dit is die enigste Namibiese instelling wat soortgelyke geriewe bedryf. Hulle was ook die trustees van die Indira Ghandi-gesondheidsentrum in die Omusati-streek," het mnr. Imbili gesê.
Die hoof uitvoerende beampte van Erongo Medical Services, mnr. Mathias Braune, was ook een van die sprekers tydens die openingseremonie.
Volgens hom is die lewensvatbaarheidstudie van die Ongwediva-projek deur BDO Spencer Stewart gedoen, terwyl Leon Barnard Argitekte vir die ontwerp van die "eerste klas" gesondheidsentrum verantwoordelik was. Bouwerk wat in 2005 begin het, is gedoen deur die Chinese Jiangsu Zhengtai boukontrakteurs, met Windhoek Consulting Engineers, Ian Oosthuizen en Koot Potgieter as bourekenaars.
Mnr. Malaki Petrus, 'n plaaslike bouer, is later by die bouwerk betrek om seker te maak dat die oprigting van die hospitaal betyds afgehandel word.
Old Mutual se Medina Fund het die bouwerk gefinansier, terwyl Nedbank Namibia met die verkryging van hospitaaltoerusting gemoeid was.
Mnr. Jaap Dettingmeier van die Nederlandse Stichting Medic, het die hospitaal bygestaan met die verkryging van meubels en ander hospitaaluitrusting, wat linnegoed insluit.
Die Medipark-hospitaal beskik oor 50 beddens, twee teaters, 'n 24-uur noodafdeling en E-Med24 se private ambulanswaens wat altyd op bystand is.
Die totale belegging beloop N$46 miljoen.
"Die werklike belegging in die streek berus op die opheffing van plaaslike gemeenskappe en die nuwe beleggings wat dit skep."
Die hospitaal het 'n personeel van dertien geneeshere en 83 verpleegsters.
Dit is die eerste hospitaal in Namibië wat 'n ooreenkoms met die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) aangegaan het.
Volgens die ooreenkoms wat op 20 April onderteken is, sal mense wat in motorongelukke beseer is, behandeling in hierdie private hospitaal ontvang.
Ook teenwoordig by Woensdag se openingseremonie was dr. Abraham Iyambo, die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, senior politici, konings Shikongo Taapopi van Uukwaluudhi en Jafet Munkundi van Ongandjera, koningin Martha Mwadinomho van Uukwanyama en senior hoofman Herman Iipumbu van Uukwambi.