Chief Riruako sterf

Catherine Sasman - Skaars minute nadat president Hifikepunye Pohamba sy lewenslange vriend, die Herero-opperhoof Kuaima Riruako, in die Rooms-Katolieke hospitaal in Windhoek laat gistermiddag besoek het, het die 79-jarige Nudo-leier gesterf.
Diegene na aan die Riruako-familie het gesê die opperhoof is tussen 16:00 en 16:30 oorlede. Die oorsaak van sy dood kon nie bevestig word nie.
Riruako was in die intensiewesorg­eenheid sedert hy op 26 April in die hospitaal opgeneem is nadat komplikasies vanweë hoë bloeddruk ingetree het. Hoewel sy toestand by tye verbeter het, het hy kritiek gebly.
“Hy was ’n ware nasionale leier, iemand wat grootliks tot die demokratiese kultuur, vrede en stabiliteit in die land bygedra het. Hy sal gemis word,” het die minister van presidensiële sake, dr. Albert Kawana, gister gesê.
Die sekretaris-generaal van Nudo, mnr. Meundju Jahanika, het gepleit dat die Herero-volk kalm moet bly in dié tyd van rou om eer aan Riruako te betoon. Hy het hom as ’n “man van sy mense” beskryf.
“Hy was ’n onwrikbare karakter wat vasberade toegewyd tot die stryd gebly het,” het die adviseur van die Ovaherero Tradisionele Owerheid (OTA), dr. Hoze Riruako, gesê. “Hy was ’n raakvatter wat dinge aktief aangepak het.”
Die kleurryke veteraan-politikus is deur sy politieke eweknieë beskryf as iemand wat verbete gevegte binne en buite die land gelei het om die lot van sy mense op nasionale en tradisionele vlak te verbeter.
Riruako is op 24 April 1935 op Aminuis in die Omaheke-streek gebore.
Hoze het vertel dat die opperhoof as Issaskar Kakuremdiro gebore is, voordat hy sy oupa, Kuaima, se eerste naam aangeneem het. Riruako kom van die matrilineale Onguatjindu en Maharero/Tjamuaohe koninklike bloedlyn wat hom aangespoor het tot ’n lewe van eers ’n politieke aktivis wees en later tradisionele en nasionale politieke leier.
Sy pa, Amon Riruako, was self ’n ondertekenaar van ’n klagskrif aan die eertydse Volkebond (VN) oor die onwettige Suid-Afrikaanse besetting van die destydse Suidwes-Afrika. Sy ma, Renate, was die kok van die menseregtekampvegter, eerwaarde Michael Scott, wat saam met mnr. Mburumba Kerina die VN-petisie oor Namibië se onafhanklikwording opgestel het.

Stryd buite Namibië­
Riruako se eerste politieke opdrag het gekom van die voormalige Herero-opperhoof Hosea Kutako wat hom in 1964 as leier van ’n groep van 155 uit die land gestuur het om militêre opleiding in Ethiopië onder Haile Selassie te ontvang. Die groep het deur Botswana ontsnap.
Volgens Hoze, wat in Augustus vyf publikasies oor politiek-historiese gebeurtenisse en “vergete” Namibiese politieke figure sal bekendstel, het Selassie die jong Riruako in Ethiopië onder sy vlerk geneem en self vir hom verblyf gereël.
Met sy terugtog en verblyf in Bo­tswana, was Riruako verskeie kere in hegtenis geneem. Die Britse owerhede het hom later aan die Suid-Afrikaanse regering oorhandig wat hom in ’n tronk in Pretoria gesit het.
In die tronk het Riruako as “die dromer” bekend geword.
In sy vertellinge aan Hoze het Riruako gesê tydens sy eensame afsondering het hy vir die eerste keer “openbarings” ontvang oor die skedels van slagoffers van die Duitse koloniale oorlog van 1904 tot 1908 wat in daardie land gehou was. Riruako het glo ook die sluipmoord op Hendrik Verwoerd voorspel.
Woedend oor hierdie voorspelling, het die tronkbewaarders twee Duitse herdershonde in sy sel ingejaag en gedink die honde sou hom uitmekaarskeur. Riruako het verbete terugbaklei, maar die honde het sy bene bygekom en erg vermink. Hoze vertel toe die tronkbewaarders die seldeur oopmaak, het die twee honde dood langs Riruako gelê.
Hoewel Hoze nie ’n presiese datum kon verskaf nie, was Riruako en ’n medegevangene van Namibië, Viana Mamoegwe, geblinddoek en in ’n helikopter na die Mombova-eiland in Zambië gevlieg waar hulle agtergelaat is om te sterf. Riruako het op ’n keer joernaliste in die land vertel hoe sy gevangenemers hom koponderstebo met die helikopter oor die rivier gevlieg het wat van krokodille gewemel het.
Riruako en Mamoegwe was agtergelaat waar hulle vir 14 dae sonder kos of water op die eilandjie probeer oorleef het.
Op die veertiende dag het Riruako blykbaar weer ’n openbaring ontvang. Sy oorlede oupa, Kuaima, het aan hom verskyn en vir hom gesê om sonder versuim op te staan en so te bly staan.
Omdat daar net een enkele boom op die eiland was, het Zambiese vissermanne gaan ondersoek instel omdat Riruako soos ’n “onbekende tweede boom” orent bly staan het. Hulle het die twee mans van hul eilandtronk gered.
Die twee het uitgeteer en getraumatiseer in Livingstone, Zambië aangekom waar Riruako versorg is deur dr. Kenneth Abrahams wat met sy vrou, Otillie, in ballingskap was. Dit was ook in Zambië waar hy vir die eerste keer vir minister Nahas Angula ontmoet het.
“Riruako het ’n noue en blywende verhouding met beide Pohamba en Angula gehad,” het Hoze vertel.
Riruako het later in Ghana beland waar hy, volgens Hoze, in die staatshoof Kwame Nkrumah se amptelike woning gehuisves was. Met die kanteling van Nkrumah se regering kon Riruako betyds vlug nadat ’n soldaat hom gewaarsku het.
Riruako is met die hulp van Kerina na die VSA waar hy vir die volgende byna 20 jaar gebly het. Daar het hy los werkies gedoen en ook ’n BA-graad aan die Universiteit van New York verwerf.

Terugkoms
Hy is na Namibië ontbied ná die sluipmoord op Clemence Kapuuo op 27 Maart 1978, en is dieselfde jaar as die Herero-opperhoof aangewys. Sy status as Herero-opperhoof was later betwis, maar dit is ’n posisie wat hy tot sy dood toe behou het.
Riruako was in 1964 een van die stigterslede van Nudo. Hy was ook die president van die DTA vanaf 1987 tot 1990 en was lid van die grondwetskrywende vergadering.
Hy was ’n DTA-parlementslid vanaf 1995 en het later Nudo uit die DTA Alliansie gelei en sy parlementêre setel laat vaar. Nudo het in 2004 drie setels in die Nasionale Vergadering gewen, wat Riruako terug in die parlement geplaas het.
Een van sy meer kontroversiële politieke standpunte was dat hy wou sien dat Namibië in ’n federale staat omskep moes word. Hy word egter geprys vir sy poging om vergoeding vir die slagoffers van die 1904 tot 1908 volksmoord te beding en sy bydrae om die skedels terug te bring. Sy ander invloedryke bydrae was om Herero’s in die diaspora na die land terug te bring.

Kategorie: