
Eerste Minister Nahas Angula
EERSTE Minister Nahas Angula het ’n wetsontwerp wat daarop gemik is om verskeie aspekte van die Grondwet te wysig, in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê. In sy verduideliking het die Premier gesê in die verlede is reeds probeer om hierdie tegniese wysigings aan te bring.
Die Nasionale Vergadering (NV) het die wysigings aanvaar, maar dit is deur die Nasionale Raad verwerp. Die wysigingswetsontwerp is gevolglik teruggestuur na die wetsopstellers wat dit herskryf het en om dié rede word dit nou in sy nuwe verfynde vorm aan die NV voorgelê.
Die eerste grondwetlike wysigings verleng die wagtydperk wat vereis word om Namibiese burgerskap te bekom deur met ’n Namibiër in die huwelik te tree. Soos die Grondwet tans lui, hoef ’n buitelander slegs vir meer as twee jaar met ’n Namibiër getroud te wees voor hy of sy om burgerskap kan aansoek doen. Met die aanvaarding van die wysiging sal buitelanders nou vir ten minste tien jaar met ’n Namibiër getroud moet wees om aanspraak op burgerskap te maak.
Eweneens is die wagtyd vir nie- Namibiërs wat wil aansoek doen om burgerskap op grond van naturalisering, ook van vyf jaar na tien jaar ononderbroke verblyf in Namibië verleng.
Die ander grondwetlike wysiging handel oor die termyn van die lede van die Nasionale Raad. In die verlede was die termyn ses jaar, maar dit verander nou na vyf jaar sodat verkiesings vir lede van die Nasionale Raad en plaaslike owerhede voortaan in dieselfde jaar gehou kan word om nie net koste te bespaar nie, maar ook as teenvoeter vir kiesertamheid te dien.
Die derde wysiging handel oor die aanstelling van buitelandse burgers as regters in Namibië welke aanstellings voortaan aan vaste termynkontrakte gekoppel sal wees. Die vierde grondwetlike wysiging skrap die woord “korrupsie” uit die Grondwet waar dit oor die funksies van die Ombudsman handel.
Die funksie het oorbodig geword sedert die totstandkoming van die Teenkorrupsie Kommissie. ’n Nuwe artikel wat oor teenkorrupsie-maatreëls handel, sal tot die Grondwet gevoeg word. Die wysiging van die termyn van lede van bestuurskomitees van plaaslike owerhede van drie jaar na twee en ’n half jaar, is die vyfde wysiging wat aan die Huis voorgelê is.
Die benaming “korrektiewe dienste” en “kommissaris- generaal van korrektiewe dienste” word in die sesde wysiging geskrap en vervang met “gevangenis” en “kommissaris van gevangenisse”. Die debat oor die wysigings is deur mnr. Tsudao Gurirab van die Congress of Democrats (CoD) tot vandag uitgestel.