Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

11.03.2010

Wêreldklas forensiese laboratorium in wording

WETENSKAP is die sleutel waarmee die mees ingewikkelde misdade opgelos sal word en in die opsig gaan die Regering miljoene dollar in ’n hipermoderne forensiese laboratoriumkompleks in Windhoek belê.

Die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, dr. Nickey Iyambo, het tydens ’n besoek aan die instituut se tydelike laboratoriums in die gebou waarin die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) voorheen gehuisves was, gesê misdadigers se dae is getel. Die forensiese instituut was voor dit in die kelder van die weermaghoofkwartier in Windhoek gesetel.

Tydens die besoek van die Minister het die hoof van die forensiese instituut, dr. Paul Ludik, planne van die nuwe laboratoriumkompleks naby die Simon de Witt-brug in die hoofstad gewys en gesê wanneer dit voltooi is, sal dit die mees moderne instansie van die aard op die vasteland wees.

Dr. Ludik het nie genoem hoeveel die bou van die kompleks gaan kos nie, maar gesê dit sal ’n unieke plek wees waar forensiese wetenskaplikes al die nodige middele tot hul beskikking sal hê om misdade op te los.

Op sy beurt het dr. Iyambo belowe dat die Regering al die nodige hulpbronne aan die instituut beskikbaar stel om ’n sukses daarvan te maak. Wanneer dit voltooi is, sal Namibië sy forensiese dienste aan die buiteland beskikbaar kan stel en daardeur ’n inkomste vir die laboratorium genereer.

In die tussentyd sal die laboratoriums in die gebou van die Paaiekontrakteursmaatskappy gevestig word en die opgradering van die gebou het reeds begin. ’n Rioolpyp wat in die gebou van die weermaghoofkwartier gebars het, het die laboratorium oorstroom en getuienis in verskeie misdaadondersoeke is in die proses beskadig.

“Terwyl die laboratorium in die RCC se gebou gevestig is, sal dit nie weer gebeur dat forensiese getuienis tot niet gaan as gevolg van ’n riooloorstroming nie,” het dr. Iyambo gesê.

Dr. Ludik het aan dr. Iyambo verduidelik dat alle moontlike stappe gedoen word om te verseker dat forensiese ondersoeke nie belemmer sal word nie. In die opsig word elke laboratorium met spesiale teëls en verf bedek. In die laboratorium waar genetiese materiaal getoets en ontleed gaan word, word selfs ’n spesiale lugversorgingstelsel ingebou om te verhoed dat dampe van een deel in die vertrek monsters in ’n ander deel daarvan kan besoedel.

Tydens die besoek het dr. Iyambo ’n jong student aan die Politegnikum, me. Nangula Nashandi, aan dr. Ludik voorgestel. Dr. Iyambo het gesê sy studeer kriminele reg en het genoem dat sy bereid is om in haar vrye tyd by die forensiese laboratorium te werk om in die proses meer van hierdie wetenskap te leer.