Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

3.02.2010

Woede op Rooikop-lughawe

WOEDE-uitbarstings teenoor grondpersoneel van Air Namibia was aan die orde van die dag toe minstens 20 pasassiers by die kaartjietoonbank moes omdraai omdat die vliegtuig waarmee hulle van die kus na Windhoek moes reis, steeds op die internasionale lughawe in Kaapstad gestaan het.

Die grondpersoneel het verduidelik dat die vliegtuig enjinprobleme ondervind het en dat tegnici besig was om die meganiese foute te herstel.

Pasassiers wat op die Rooikop-lughawe vol verwagting by die kaartjietoonbanke aangetree het, moes hoor dat hulle nie sal kan reis nie.

Onder die passasiers was ’n bejaarde egpaar van Namibië wat dringend na Duitsland moes reis omdat die vrou se moeder op sterwe lê. Toe die vrou hoor dat geen kans bestaan dat sy haar sterwende moeder voor haar dood te siene sou kry nie, het die trane vrylik gerol. Die kansellasie van die vlug het beteken dat die egpaar nie hul vlug van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako na Frankfurt sou haal nie.

’n Ander persoon moes dringend in Windhoek wees vir ’n vergadering met die Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur. Die persoon verteenwoordig glo die wêreldbeheerliggaam van sokker, Fifa, en het op die lughawe beweer dat Namibië tydens vanjaar se Wêreldbekertoernooi etlike miljoene dollar aan inkomste sou verloor indien die vergadering nie plaasvind nie.

Grondpersoneel van Air Namibia was egter magteloos om enigiets aan die saak te doen. Die enigste uitweg was vir gestrande passasiers om na hul wonings langs die kus terug te keer. Diegene met geen heenkome nie, kon in die Protea Hotel op Walvisbaai oornag tot tyd en wyl ’n ander vliegtuig van Windhoek gestuur kon word om die gestrande passasiers op te pik.
Air Namibia se operasionele hoofbestuurder, mnr. Ben Dahwa, het gesê die probleem met die vliegtuie lê by die maatskappy by wie die lugredery die Boeing 737-200 modelle huur.

“Air Namibia het onlangs nuwe roetes na Ghana en Zambië geopen en besluit om sy eie 737-vliegtuie vir die nuwe roetes te gebruik. Bykomende vliegtuie moes van ’n Suid-Afrikaanse verhuringsmaatskappy gehuur word om die ander roetes tussen Windhoek, Kaapstad en Johannesburg te bedien.”

In Oktober verlede jaar het die vliegtuie volgens mnr. Dahwa tegniese probleme begin oplewer, maar dit kon opgelos word. Gedurende Desember het ’n reeks probleme met die vliegtuie begin opduik en die afgelope drie dae het die probleme weer kop uitgesteek.

Volgens hom het die vliegtuig in Kaapstad probleme met sy hidrouliese stelsel ondervind.

Volgens mnr. Dahwa was die passasiers wat Sondag in Kaapstad gestrand was teen laat Maandagmiddag in Windhoek. Die passasiers wat in Walvisbaai moes oornag, is Maandagoggend met ’n B1900 na Windhoek vervoer.

“Air Namibia is dringend besig om die verhuringsmaatskappy so ver te kry om onderdele vir die vliegtuie op Windhoek, Johannesburg en Kaapstad se lughawens aan te hou sodat tegniese probleme spoediger opgelos kan word. ’n Ooreenkoms is hieroor bereik en die betreurenswaardige stand van sake behoort binnekort opgelos te wees.”