1.10.2008

Wittebroodsnag in selle

DIE oomblik toe ’n jong man Vrydagmiddag in die Swakopmundse landdroshof met ’n huweliksbevestiging sy allerantwoord van “Yes, I do” gegee het, het speurders toegeslaan en hom ten aanskoue van sy bruid in hegtenis geneem. Dit het ’n volle dag geduur voordat die paartjie se huweliksbootjie weer in vaarwater was.

Die inhegtenisneming het gevolg op twee klagte van beweerde diefstal en bedrog wat teen die bruidegom van sekondes ondersoek is. Die voorval is gister deur die polisiehoof in die Erongo-streek, adj.komm. Festus Shilongo, bevestig. Binne ’n dag ná die inhegtenisneming was die bruidegom Saterdagmiddag omstreeks twee-uur weer ’n vry man toe die klaer die sake teen hom teruggetrek het. Die polisie-optrede het blykbaar verband gehou met twee klagtes waarby twee tjeks van N$11 000 en N$3 000 betrokke was.

Adj.komm. Shilongo het gelas dat geen name gebruik mag word nie, aangesien daar geen hofverskyning was voordat die saak teruggetrek is nie. Inligting van Republikein dui daarop dat die bruidegom ’n Duitssprekende man van Angola is. Die bruid is ’n Namibiese meisie. Vrydagmiddag het die bruilof in die slag gebly toe die deurmekaartroue van die landdroskantoor na die polisiekantoor oorgeskuif het.

’n Ongewone toneel het hom in die polisiekantoor afgespeel waar die bruidegom in aanhouding was en die normale afskorting hom van sy pasgevonde vrou en van die bruilofgaste geskei het. Die polisiekantoor was ’n plek van uitgevatte mans en vroue wat pleks van op ’n fees, daar beland het. Mense in hul allerbeste klere het voor die polisiekantoor aanhouend op mobiele fone geskakel.

Daar word vermoed dat dit was om gaste in te lig dat die bruilof of vertraag of voorlopig van die baan is. Betroubaar word verneem dat die polisie doelbewus gewag het totdat die huweliksband finaal gesmee was en toe onmiddellik toegeslaan het. Hulle het die huwelikspaartjie en die getuies daarna oor die straat na die polisiekantoor gelei. Vrydagnag het die pasgetroude paartjie weg van mekaar geslaap – hy in ’n sel en sy elders op Swakopmund.

• In ’n lentenaweek waarin die oorde van die sentrale kusgebied oorgeloop het van besoekers, is een man Vrydagmiddag in ’n motorongeluk tussen Walvisbaai en die lughawe Rooikop dood. Die polisie het gister nog nie ’n naam verstrek nie, omdat die familielede van die oorledene nog nie opgespoor was nie.

• In die Walvisbaaise woonbuurt Narraville was daar Sondagoggend omstreeks sesuur ’n beweerde moord. ’n Jong vrou het aan ’n meswond in haar nek gesterf nadat ’n huismoles blykbaar in geweld oorgegaan het. Haar beweerde aanvaller sou gister ’n eerste verskyning in die Walvisbaaise landdroshof maak.