
• Christuskirche
OF jy in die eerste paar dae van die vakansie vriende en familie van elders ontvang, of eenvoudig besluit het om Windhoek jou vakansiebestemming te maak, jy kan jouself op die een of ander wyse in die hoofstad vermaak.
As een van die skoonste en veiligste hoofstede in Afrika, spog Windhoek met ’n ryk kultuur en historiese geskiedenis waarop besoekers vinnig verlief sal raak. Draai eenvoudig jou motor se neus in die rigting van ’n paar van die volgende plekke en verken self die geheime van die hoofstad.
Die Christuskirche is op die hoek van Fidel Castrostraat en Robert Mugaberylaan in die middestad geleë. Nadat die hoeksteen van die gebou in 1886 gelê is, is die gebou in 1910 deur die Duitse konstruksiemaatskappy Tunschel & Wilke volledig as plek van aanbidding vir die Duitse Lutherse-gemeente ingerig.
Vandag is hierdie kerk ’n historiese monument ryk aan tradisie en geskiedenis en met een van die beste akoestieke in die land is dit ’n gewilde konsertlokaal waar klassieke musiekuitvoerings aangebied word.
Die gebou wat vandag die Kollege vir die Kunste in Fidel Castrostraat huisves, het in 1898 die lig gesien. Hierdie gebou is aanvanklik as ’n hof gebruik en het ook as skool gedien voordat dit in die staatskonservatorium omskep is en die woonplek van die kunste in Namibië geword het.
Na onafhanklikwording is die naam verander na die Kollege vir die Kunste en besoekers kan gereeld uitstallings en konserte van die studente Maandae tot Vrydae bywoon. Belangstellendes kan die kollege skakel vir inligting oor uitstallings, produksies of klaskonserte wat bygewoon kan word.
Die St. George katedraal op die hoek van Love- en Sinclairstraat is die kleinste funksionerende katedraal in Suider- Afrika en is ‘n interessante besoekpunt vir besoekers wat nuut is aan Windhoek.
Die kerkie is in 1924 opgerig en die kerkklok wat vandag in die kerktoring hang, was een van ’n stel wat vir die St. Mary-kerk in Northwall, Canterbury, in die Verenigde Koninkryk gesmelt is. Met ’n tipiese Anglikaanse kerkge voel, ets die klein geboutjie ’n lewenslange nagedagtenis in die geheue af wanneer ‘n besoeker dit verlaat.
St. Mary katedraal, die grootste katedraal in Namibië, is in Werner Liststraat in die middestad op die perseel van die sentrale Rooms Katolieke-sending geleë. Hierdie perseel bestaan uit die Holy Cross Convent-laerskool, die Rooms Katolieke- hospitaal, die kerksaal en die St. Mary-katedraal, asook ’n voorskoolsentrum en administratiewe blok van die sending.
St. Mary is nog ’n konsertlokaal wat spog met ’n uitmuntende akoestiek wat daartoe lei dat tientalle klassieke uitvoerings, veral koormusiek, jaarliks hier aangebied word.
Besoekers wat die kerk wil aandoen, kan met die kantore op die perseel in aanraking kom vir tye van heilige mis of besoekure.
’n Ander bekende toeriste- aantreklikheid is die Tintenpalast, oftewel die parlementsgeboue, oos van Robert Mugaberylaan en die Christuskirche.
Hierdie gebou is in 1913 deur die maatskappy Sander & Kock gebou volgens ’n ontwerp van G. Redecker, wat ook verantwoordelik was vir die argitektuur van die Christuskirche. Die Tintenpalast het in sy jare van bestaan ’n aantal regerings wat die land beheer het, gehuisves en dien vandag as die kamers van die Nasionale Vergadering.
Ander noemenswaardige besoekpunte in en om die hoofstad waar besoekers gerus ’n draai kan maak, is die Alte Feste, een van die oudste geboue in Windhoek en vandag die staatsmuseum asook die Zoopark, geleë in die middestad, wat as ruspunt dien vir diegene wat die wonders van Windhoek te voet besoek. Visdamme, lowergroen plantegroei, ’n kinderpark, en ’n amfiteater kom hier voor terwyl restaurante en kroeë rondom die park besoekers nooi om lafenis daar te soek.
Die Heldeakker (Heroes Acre) net buite Windhoek op die hoofpad na Rehoboth is ’n moderne, nasionale monument ter herinnering aan diegene wat vir die onafhanklikheid van Namibië gesterf het. Die Heldeakker is in 2002 ingehuldig.