
Twee wilddiewe onder bewaking van natuurbewaringsbeamptes na hulle Saterdag op heterdaad betrap is terwyl hulle ‘n gemsbok in die veld naby die Daan Viljoen-natuurreservaat geslag het.
‘n HAKKEJAG deur lede van die gedugte wilddiefstaleenheid van Natuurbewaring en lede van die stadspolisie het twee wilddiewe wat lank reeds aan die buitewyke van Windhoek doenig is, se turf laat sit.
Die twee mans is Saterdagoggend deur een van die teenwilddiefstaleenheid (APU) se werknemers betrap waar hulle besig was om ‘n gemsbok wat hulle met honde gejag het, af te slag.
Die twee glibberige manne word al jare lank gesoek vir hul skrikbewind op plase in die omgewing van die Daan Viljoen-natuurreservaat. “Hul spore is al ‘n klompie keer tot in die Otjomuise- en Goreangab- woonbuurte gevolg, maar hulle was ons altyd ‘n kortkop voor.
Hul honde het hulle altyd gewaarsku as een van die natuurbewaarders of polisiebeamptes te naby aan hulle gekom het.” Saterdag was hulle egter nie so gelukkig nie, want voor ‘n hond kon blaf, was die man van die APU op hulle.
Die skelm jagters het ses honde by hulle gehad waarmee hulle die gemsbok vasgekeer het voor hulle die dier met ‘n spies van kant gemaak het. Natuurbewaringsbeamptes het na die inhegtenisneming na die twee mans se woning in Goreangab gegaan en dele van die karkas daar gevind.
Die jaghonde is ook op die werf gekry en weggeneem. Die diewe het die plek in ‘n droë rivierloop waar hulle die gemsbok gedood het, uitgewys voor hulle na die polisiekantoor in Windhoek geneem is.