WERKLOOSHEID: die pad vorentoe

Een van die sosio-ekonomiese vraagstukke wat meestal in dieselfde asem geopper word as die groeiende vlaag van misdaad in die land, is dié van werkloosheid.
Beide hierdie kwessies word huidig in die Nasionale Vergadering bespreek. Wat 'n mens egter laat wonder oor wetgewers se erns met werkloosheid is die feit dat mnr. Tsudao Gurirab van die CoD se versoek om dié saak in die parlement te bespreek eergister deur die Speaker uitgegooi is omdat die lid nie daar was om sy mosie te motiveer nie.

Die menslike werklikheid
Dis 'n oorbekende gesig in alle uithoeke van die stad - mans wat in hul tientalle gedweë op straathoeke of openbare geboue se muurtjies wag dat 'n barmhartige Samaritaan hul werk sal aanbied.
Saam met dié verskynsel is daar 'n nuwe strategie (meer algemeen in Suid-Afrika): die karton om die nek met 'n pleidooi vir werk of finansiële hulp in groot letters daarop.
As 'n mens in ag neem hoe dié werksoekers se getalle die afgelope jare hand oor hand toegeneem het, is dit duidelik dat werk besig is om al skaarser te word.
Johannes* het aan Republikein verduidelik dat hy en sy makkers elke oggend vroeg by hul staanplek aankom. Hulle moet kilometers stap of geleenthede soek omdat hulle nie huurmotors kan bekostig nie.
"Gewoonlik is mens se kans om oor die naweek geholpe te raak beter, maar soms is daar ook werk in die week, veral as iemand se gereelde stukwerkers nie opdaag nie of vir 'n tyd uitstedig is," sê Johannes.
Hy vertel dat hy met werkgewers onderhandel oor vergoeding. Sy beginversoek is gewoonlik N$ 50,00 per dag, maar hy erken dat hy vir minder werk as dit moet. Enigiets om die honger te stil...
Die meeste werkloses is afkomstig van kommunale gebiede, veral Ovamboland. Johannes sê hy is reeds drie jaar in Windhoek en het nog nie in dié tyd werk gehad vir langer as 'n paar weke nie.
Hy wou egter nie byt aan die hoek hoeveel werkloses hulle tot misdaad wend of hoe lank 'n mens sonder werk klaarkom voor jy onwettige maniere oorweeg om jou maag te vul nie. "'n Mens moet probéér werk kry," was sy antwoord.
* Skuilnaam.

Die feite
Volgens mnr. Albius Mwiya, Adjunkdirekteur van Werkverskaffing by die Ministerie van Arbeid, is die jongste beskikbare syfers as volg:
Terwyl 41,5% van mense volgens die 1991-sensus ekonomies onaktief was, het dié syfer gedaal tot 34,5% in 1997 en staan dit huidig op 'n geskatte 33,8%. Dié syfers sluit egter alle werkloses in - ook studente, tuisteskeppers en afgetredes.
Volgens 'n meer beperkte definisie, wat net mense tel wat aktief werk sóék, is ongeveer 20,2% van die arbeidsmag op die oomblik werkloos teenoor die 19% van die 1991-sensus. Ander beramings reken egter dat soveel as 25 tot 30% van die arbeidsmag sonder werk kan wees terwyl die jongste nasionale ontwikkelingsplan (NDP2, 2001-2006) skat dat tot 38% van burgers tussen 15 en 24 tans werkloos is.
In 1997 het die Caprivi die hoogste werkloosheidspeil gehad (51,3%), gevolg deur Omusati se 49,4 en die 40,4 van die Kavango. Oshikoto het die beste vertoon, met net 24,6% werklose inwoners.
Werkloosheid is ook meer algemeen in stedelike gebiede en dié sonder werk is meestal ongeskool. Volgens die 1991-sensus het 21% van werkloses geen opvoeding ontvang nie en 39% het nie verder as laerskool gevorder nie.
Hieruit blyk dit dat die tekort aan menslike hulpbronne waaroor die regering huidig so besorg is, glad nie geringgeskat moet word nie. Beide NDP1 (1995-2000) en 2 argumenteer naamlik dat die land net sosiaal en ekonomies selfstandig kan word indien hy sy eie geskoolde arbeidsbronne ontwikkel. (Teen 1995 moes die meeste sulke vaardighede egter steeds ingevoer word.)
Dié probleem word volgens NDP1 vererger deur die feit dat daar steeds groot opvoedingsongelykhede bestaan tussen sekere dele van die bevolking en dat baie leerders voor Graad 10 en 12 die skool verlaat. Die plan meld ook 'n hoë herhalingsyfer.
Mense wat minder goed geskool is, sukkel om mee te ding vir die reeds beperkte aantal posisies wat die formele sektor bied terwyl werkgewers geneig is om altyd op ondervinding aan te dring. Die meeste skoolverlaters eindig dus eventueel in die werkloosheidsbootjie.
Onwerksaamheid is 'n ander probleem. Ten minste die helfte van die arbeidsmag het in 1991 minder as 35 ure per week gewerk of was op soek na bykomende werk.
Werkskaarste bevorder verstedeliking en buiten dat dit die arbeidsmag in landelike gebiede laat krimp, verhoog dit die aanvraag vir basiese dienste in dorpe en stede, en werk misdaad in die hand.
Nog 'n kommerwekkende statistiek is dat volgens 'n landwye opname van 1999 16,3% van kinders tussen 6 en 18 jaar gewerk het - meer as 95% van hulle woonagtig in landelike gebiede. Volgens wet word kinders verbied om, afhangende van die sektor wat hulle betree, te werk voor hulle 14 tot 16 jaar oud is.

Die uitdaging
Volgens die Ministerie se 1997-beleidsdokument oor werkverskaffing kan werkloosheid politieke onstabiliteit veroorsaak as gevolg van rasse- en klassespanning en is dit essensieël dat die probleem vinnig en effektief aangespreek word.
NDP1 het egter gesê dat die uitdaging nie alleen is om meer werk te skep nie, maar ook om meer getroue inligting in verband met die arbeidsituasie te versamel, sowel as om gepaardgaande armoede te verlig - veral vir die 51% van die bevolking wat vroulik is en erger deurloop as mans.
Volgens beide ontwikkelingsplanne is produktiewe werkskepping steeds die enigste manier om armoede te beveg en die inkomstegaping te vernou.
Die strategie van NDP1 was dus om binnelandse beleggings aan te wend om sektore wat reeds produktief is, soos mynbou en visserye, verder te bestendig en uit te brei, om onderontwikkelde sektore soos bestaansboerdery (in 1997 het dié sektor byna 40% van alle werk in die land voorsien) en klein besighede te ontwikkel, om medium en groot uitvoernywerhede op te rig wat op groot skaal kan werk skep, om toerisme se volle potensiaal te ontgin en om opvoeding en opleiding te rat om beter in ontwikkelingsbehoeftes te voorsien. NDP2 eggo dié plan en stel dus nie verreikende nuwe doelwitte voor nie.
Die suksesvolle toepassing van dié strategie hang egter af van gunstige politieke, sosio-ekonomiese en selfs weersomstandighede - wat ongelukkig nie altyd aanwesig is nie.
NDP2 bevestig dat baie van die doelwitte met die eerste plan nie bereik is nie as gevolg van 'n verskeidenheid faktore. Vernaam lae groei- en hoë rentekoerse, asook voortgesette ongunstige arbeidsverhoudinge - faktore wat ook beleggingskoerse negatief beïnvloed het.
Volgens NDP1 sou die regering oor vyf jaar N$ 20 miljoen per jaar spandeer aan werkskepping, byvoorbeeld deur arbeidsintensiewe projekte soos die oprigting van paaie. Die staat het beplan om 70 tot 100 000 nuwe werke te skep met sy eerste ontwikkelingsplan, maar NDP2 gee geen terugvoer hieroor nie.
NDP2 kla steeds dat die arbeidsituasie moeilik ontleedbaar is omdat getroue syfers skaars is (die arbeidsopgawe vir 2000 is byvoorbeeld steeds by die drukkers) en omdat die skeidslyn tussen formele en informele arbeidsektore onduidelik is.
Die verslag lys ook die volgende as probleme: besuiniging, hoë bevolkingsgroei, arbeidsonrus wat spruit uit gebrekkige kennis van die arbeidswet en -regulasies (by beide werkgewers en -nemers), die feit dat die land se sowat 25 000 formele klein- en mediumbedrywe steeds beperkte toegang tot finansiële en ander adviesdienste het, en die noodsaak om 'n minimum loon vas te stel.

Die pad vorentoe
NDP2 maak die volgende voorstelle om oor die volgende vyf jaar beter te vaar op die front van werkskepping: beter samewerking en koördinering, die gebruik van die informele sektor as 'n treeplank vir indiensneming in die formele sektor, meer arbeidsdialoog, die verbetering van dienste aan werklose gemeenskappe, die mobilisering en bemagtiging van voetsoolondernemings, asook die voortgesette uitwissing van agterstande in vaardighede.
Die kweek van ondernemingsgees is 'n ander sleutel wat mense toegang tot welvaart kan bied.
In 'n voortdurend krimpende arbeidsmark is die ontwikkeling van entrepreneurskap een van die belangrikste maniere om self-werkskepping te bevorder en mense te help om hul eie welvaart te genereer. Hierdie is 'n belangrike doel, veral in die lig daarvan dat NDP1 en 2 eis dat die privaatsektor meer werk moet verskaf en dat die land se geskiedenis, wat klein besigheid ontmoedig het, omgekeer word.
Hoewel die regering die grootste enkele werkgewer in die land bly (sedert onafhanklikheid is die meeste formele werk deur die uitbreiding van die staatsdiens geskep), kan die amptenary nie meer teen dieselfde koers groei nie. Die verantwoordelikheid van die informele sektor word dus al groter en dié afdeling van die ekonomie gaan 'n kardinale rol speel in die verbetering van lewenstandaarde.
Volgens NDP2 se statistieke betaal die staat 20% van die land se formele arbeiders en die privaatsektor 44%. Net 9% van die mense in die privaatsektor werk egter vir hulself.
Een van die maatskappye in Namibië wat die ontwikkeling van ondernemingsgees hoog aanslaan, is Sanlam. Volgens mnr. Evans Simataa is daar steeds meer skoolverlaters wat nie werk kan vind nie en om die las op die formele arbeidsektor te verlig, is dit noodsaaklik om jongemense te leer om hulself en ander te help deur self werkskeppers te word.
Sanlam het in Mei 2002 begin met 'n entrepreneurs- kompetisie waarby 28 skole betrek is. Leerlinge is gevra om besigheidsplanne voor te lê en uit die sewe opvoedkundige streke wat geteiken is, is sewe wenners aangekondig aan wie Sanlam elk N$ 2 000,00 gegee het om hul planne in werking te stel of as kapitaal te gebruik vir verdere ontwikkeling.
Hierdie sewe projekte is volgens mnr. Simataa almal goed op dreef en altesame 127 leerders is direk by die ondernemings betrokke, wat wissel van die vervaardiging van skryfbehoeftes en juwele tot die verwerking van volstruiseiers tot verskeie produkte. In Tsumeb het die wenners besluit om hul projek op die jeug se sosiale behoeftes te rig en bedryf hulle 'n uiters winsgewende koffiewinkel waar ook danse aangebied word. Die Rundu-projek het winste gebruik om handboeke aan te skaf.
Die Sanlamkompetisie sal volgens beplanning aanstaande jaar uitgebrei word om alle hoërskole in die land te betrek.
Ouers kan boonop nooit vroeg genoeg begin om besigheidsvernuf op 'n gesonde wyse by hul kinders in te prent nie - bewys hiervan is die Michelle McLean Kindertrust se Pop up!-projek wat sedert 2001 met die hulp van Bank Windhoek en Walton's aangebied word en gerig is op die ontwikkeling van entrepreneurskap by Graad 1 tot 3 -leerlinge.