24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

16.03.2010

Werk begin aan mediese skool by Unam

© Estelle de Bruyn
Pres. Hifikepunye Pohamba (middel) bygestaan deur die Minister van Onderwys, mnr. Nangolo Mbumba, en die Minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, spit die eerste sooie op die terrein waar die kampus van die mediese skool van die Universiteit van Namibië eersdaags sal verrys.
PRESIDENT Hifikepunye Pohamba het Donderdag die eerste sooi gespit op die terrein waar die Universiteit van Namibië (Unam) se nuwe mediese skool gaan verrys.

Vanjaar is die eerste jaar dat ’n volwaardige MB.ChB-graadkursus aan die Universiteit van Namibië aangebied word. Altesaam 57 studente is uit die meer as 800 aansoekers gekeur om die kursus te volg.

In sy toespraak het Pres. Pohamba daarop gewys dat Namibië vir baie jare aangewese was op dokters uit die buiteland om die plaaslike aantal geneeshere aan te vul. Sedertdien is oor ’n kwota vir die opleiding van Namibiese dokters aan Suid-Afrikaanse universiteite onderhandel, maar die behoefte aan ’n plaaslike mediese fakulteit het steeds bestaan.

Die beraamde koste om ’n volwaardige en goed toegeruste mediese kampus in Windhoek te vestig, beloop volgens Pres. Pohamba N$140 miljoen.

Hy sê die mediese skool sal bydra tot die ontwikkeling van voldoende opgeleide professionele lui om die nasionale gesondheidsorgstelsel te bestuur en voorkomende, genesende en rehabiliterende gesondheidsorg wat kostedoeltreffend, volhoubaar en aanvaarbaar vir almal is, daar te stel.

“Uiteraard sal die aanvanklike jare van hierdie projek betekenisvolle finansiële investering vereis. Dit is nodig om te verseker dat ons ’n fasiliteit van wêreldgehalte bou. Dit is ’n verbintenis wat ons moet maak en laat slaag in die wete dat dit op die lange duur goeie gevolge sal hê wanneer ons die jaarlikse opbrengs van gekwalifiseerde en plaaslik opgeleide dokters sien,” het Pres. Pohamba gesê.

Hy het egter sy kommer uitgespreek dat van die 800 aansoekers vir plekke aan die mediese skool, altesaam 710 nie aan die minimum toetreevereistes, naamlik 35 punte in vyf vakke en ’n B-simbool of beter vir Engels en biologie op gewone vlak voldoen het nie.

Altesaam 157 aansoeke het van gekwalifiseerde en ervare verpleegsters gekom wat nie aanvaar kon word nie omdat hulle nie wetenskap of wiskunde gestudeer het nie.

Pres. Pohamba het gesê hoërskole moet ’n groter premie plaas op harde wetenskappe sodat leerlinge wat rigtings soos medies wil gaan studeer, die vakke het wat vir toelating vereis word. Hy het ook sy tevredenheid uitgespreek met die feit dat 33 van die 57 eerste groep eerstejaarstudente in die geskiedenis van unam se mediese fakulteit, vroue is en dat een van die 24 manstudente van die Ovahimba gemeenskap, een van die gemarginaliseerde groepe in die land, kom.

Die visekanselier van die universiteit, prof. Lazarus Hangula, het op sy beurt gesê daar word reeds sedert 2004 hard gewerk om die sogenaamde ENGIMED- projek (ingenieurswese, inligtingtegnologie en mediese kapasiteitbou) ’n werklikheid te maak.

Die ingenieurswese en inligtingtegnologie deel hiervan het met die opening van die kampus op Ongwediva gerealiseer. Dit gaan nou ’n stappie verder met die mediese kampus in Windhoek, wat op die terrein tussen die Katuturastaatshospitaal en Windhoek sentrale hospitaal tot stand gaan kom.

Altesaam agt dosente, sommige plaaslik, ander van die Universiteit van Pretoria en ook ’n Amerikaanse dosent, sal die leisels by die fakulteit neem. Later sal die mediese skool ook opleiding aan aspirant tandartse en aptekers verskaf.

Prof. Hangula het ’n beroep op die private sektor en buitelandse regerings en agentskappe gedoen om die Regering en Unam by te staan om onder meer die laboratoriums wat op die kampus opgerig sal word, toe te rus.

Hy het dit ook duidelik gemaak dat hy hom nie vereenselwig met beweringe dat hy sou geweier het om finansiële bystand van die Konrad Adenauer-stigting te aanvaar nie.

Kyk ook na 'n videogreep oor die geleentheid onder die Videonuus-skakel.