DIE saak waarin ’n ouer van Windhoek N$2,4 miljoen van ’n kleuterskool eis waar haar driejarige dogter na bewering deur seuns gemolesteer is, het gister ’n oënskynlike terugslag in die Hoërhof beleef.
Dit volg nadat inligting bekend geword het wat daarop dui dat die eiser se spesialisgetuie na bewering nie oop kaarte met die hof gespeel het nie. Sy is glo ook ’n sakevennoot van die eiser se familie.
Dr. Louise Olivier, ’n forensiese sielkundige uit Suid-Afrika wat internasionaal bekend is, het ná die voorval ’n verslag oor die meisie opgestel. Sy het al verlede jaar in die saak getuig. Die verdediging meen egter dat haar getuienis nie objektief was nie, aangesien sy direkte bande met die gesin het.
Die bestuur van die Deutscher Schulverein word van nalatigheid aangekla omdat die meisietjie glo in die tyd wat sy onder die skool se toesig was, in ’n toilet deur vier seuntjies gemolesteer is.
Adv. Theo Barnard, wat namens die skool optree, het gister gesê dat ’n lasbrief uitgereik is vir die inhegtenisneming van Olivier se broer, mnr. Derek van Heerden, ook van Suid-Afrika. Hy en Olivier is die enigste direkteure van ’n maatskappy met wie die eiser se familie sake doen.
In ’n eedverklaring wat deur die verdediging se prokureur, mnr. Wolfgang Horst Pheiffer, ingedien is, word Olivier se getuienis as vaag en ontwykend beskryf. Hofrekords oor haar getuienis is by sy verklaring aangeheg.
Verder het hy ook getuienis van die sakevennootskap van dr. Olivier en die gesin aangeheg wat op die webtuistes van Olivier en die familie gevind is. “Toe Olivier oor haar betrokkenheid by die eiser se familie ondervra is, was haar antwoorde vaag en ontwykend, veral op die vraag oor hoeveel keer sy die gesin besoek het nadat sy in 2007 haar verslag oor die kind opgestel het,” sê Pheiffer in sy verklaring.
Tydens kruisondervraging het Olivier geantwoord dat sy daarna nog nie weer daar was nie. “Ek was nooit op die plaas nie. Ek was, laat ek dink... ek was eenmaal daar, vir ’n kort tydjie. Ek het nie daar gebly nie. Ek het saam met een ander persoon (haar broer) gegaan wat ek by die besigheid wou betrek sodat dié persoon die besigheid kon sien,” sê die rekord.
Sy het later egter getuig dat sy ’n hond daarheen geneem het. Inligting op een van die webwerwe verwys na ’n besoek deur Olivier en haar broer, waartydens geskenkies saamgeneem is vir die kinders wat by die plaaslike onderneming gehuisves word. “Hierdie keer het sy ’n sakkie lekkers vir elke kind saamgebring,” lees die inskrywing by ’n foto van Olivier en Van Heerden saam met die kinders.
In die verklaring verduidelik Pheiffer dat Olivier nie verder ondervra is nie omdat die verdediging nie in daardie stadium hierdie inligting gehad het nie.
Van Heerden word as gasvryheidbestuurder en lid van die sakespan op die plaaslike onderneming se webwerf gelys. Hy is in Desember 2011 gedagvaar om in die saak te kom getuig sodat hy agtergrond oor hul betrokkenheid by die eisers se familie kon verstrek.
Die dagvaarding wat by sy Namibiese werksadres op hom bestel is, stel dit duidelik dat sou hy nie daaraan gehoor gee nie, hy ’n boete van N$2 000 opgelê kan word of tot ’n jaar se tronkstraf gevonnis kan word. Die verdediging het ’n bewysstuk ingedien dat die dagvaarding op 19 Januarie by die eisers se familiesaak op Van Heerden beteken is. Op 31 Januarie het die verdediging egter ’n brief van ’n Suid-Afrikaanse prokureur ontvang wat verduidelik dat Van Heerden nie in die hof sal kan verskyn nie, aangesien hy in dié tyd in Suid-Afrika sal wees.
Volgens Pheiffer is dit noodsaaklik dat Olivier of die kind se ma weer na die getuiebank geroep word om die aard van hul verhouding te bepaal. “Die bewyse sal ’n kritieke impak hê op die objektiwiteit en geloofwaardigheid van die verslag wat Olivier, as ’n sogenaamde neutrale spesialisgetuie, saamgestel het.”
Die saak sal vandag voor Regter Dave Smuts voortgesit word.