
Mnr. Willem Wijnstekers, sekretaris-generaal van Cites, by olifanttande wat in November 2008 op 'n veiling in Windhoek van die hand gesit is.
’n TEGNIESE punt en ’n onduidelike beskrywing van sewe Afrika-lande oor die rede waarom hulle wil hê onder meer Namibië moet vir twintig jaar nie in staat wees om in ivoor- en ivoorprodukte handel te dryf nie, kan daartoe lei dat dié voorlegging deur die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) verwerp word.
Intussen het ’n reusedebat onder betrokkenes oor die olifantonderwerp wêreldwyd uitgekring en moes Cites se hoë amptenare hokaai roep voor die volgende vergadering die naweek begin.
Kongo, Ghana, Kenia, Liberië, Mali, Rwanda en Sierra Leone gaan die komende week vra dat ’n besluit van die vorige sitting van die Konferensie van Partye (CoP) herroep moet word. Die besluit was dat Suid-Afrika, Botswana, Namibië en Zimbabwe eers ná nege jaar na die laaste ivoorverkope (November 2008) weer ivoor mag verhandel en dat Namibië en Zimbabwe geregistreerde verwerkte ivoor (omakipa) verkoop.
Die lande wil hê dat die tydperk vir verkope tot 20 jaar verleng moet word, dat geen olifantbevolkings van die sogenaamde Aanhangsel I na Aanhangsel II mag afgegradeer word nie en dat Namibië en Zimbabwe nie met hul omakipas handel mag dryf nie.
Die CoP15 van Cites beraadslaag tot 25 Maart in Doha, Katar, en dié voorstel verskyn as item nommer 6 op die agenda. Tydens die indiening van die voorstel het die Cites-sekretariaat dit reeds onder oë gehad en volgens hul voorlopige bevinding sê die sekretariaat dat die voorstel nie goed gemotiveer is nie en dat die sewe lande nie duidelik is oor wat hulle eintlik wil hê nie. Die sekretariaat noem dat hy nie kan aflei of die lande bloot ’n 20 jaar moratorium wil instel nie en of die lande wil hê dat geen verdere debat gevoer of voorstelle in dié 20 jaar gemaak mag word nie.
“Die sekretariaat is van mening dat indien geen verdere voorstelle ingedien mag word nie, dit die partye se vermoë sal beperk om hul regte toe te pas. Op enige gegewe tyd moet die partye daartoe in staat wees om die hef in die hand te neem, wat in die beste belang van die spesies is. Dit sluit die aanpassing van die aanhangsels in.”
Betreffende die verkope van omakipa sê die sekretariaat enige verkope sal onmiddellik gestaak word indien die betrokke lande nie die regulasies om die produkte te verkoop, nakom nie.
“Die vaste komitee kan bykomende, streng beheermaatreëls op die verkope van olifantprodukte instel.”
Die sekretariaat wys daarop dat daar nie in hierdie stadium bewyse is dat Namibië en Zimbabwe nie reeds volgens die reëls optree nie.
“Op die basis van inligting wat ons voor die bespreking van die 15de sitting van die Konferensie van Partye (CoP15) het, beveel die Sekretariaat aan dat die voorlegging verwerp word,” sê die sekretariaat oor die twee voorleggings.
Intussen het mnr. Willem Wijnstekers, sekretaris-generaal van Cites, in ’n sterk bewoorde verklaring gesê die betrokke partye moet nie emosioneel begin optree en wild en wakker beskuldigings rondslinger nie.
Hy het verwys na internasionale berigte dat Cites hom by die sewe Afrika-lande skaar en dat Cites se naam in die algemeen beswadder word.
“Cites is ’n lidmaatskapgedrewe konvensie. Lidlande kan en aanvaar inderdaad ’n klomp besluite, maatreëls en instruksies wat nodig is dat die handel van wildspesies op die Cites-aanhangsels gelys word en dat dit nie teen hulle oorlewing indruis nie. Die sekretariaat speel ’n ondersteunende rol.
“Alvorens die sekretariaat ’n besluit kan neem, moet hy eers die verslag van sy paneel van kundiges onder oë neem, wat verskeie faktore soos olifantbevolkings se getalle, bewaringsbestuur, handelsbeheer en meer in ag neem.
“Wat ook al die sekretariaat se laaste sê is oor die voorleggings, sal op dit ’n objektiewe bepaling gegrond wees.
“Ek sien uit na ’n openlike, eerlike en objektiewe debat in Doha rakende die olifantkwessies,” sê mnr. Wijnstekers in ’n verklaring wat op 26 Februarie uitgereik is.
Namibië se afvaardiging na die CoP15 bestaan uit: Minister Netumbo Nandi-Ndaitwah, dr. Kalumbi Shangula (PS van die Omgewing en Toerisme), me. Louise Mupetami (adjunkdirekteur van wetenskaplike dienste), me. Elly Hamunyela van wetenskaplike dienste, mnr. Pierre du Preez (hoofwetenskaplike in die Ministerie), mnr. Simeon Negumbo (ondersekretaris in die Ministerie) en ’n lid van die polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne.