
Koningin Martha Mwadinomho Nelumbu wat ook die slypskool bygewoon het.
‘n SLYPSKOOL wat daarop gerig is om openbare bewustheid oor die gevaar van klein en ligte wapens aan te wakker, het verlede week op Oshakati plaasgevind en is deur die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, dr. Nickey Iyambo, amptelik geopen.
Die tweedaagse slypskool wat op artikel 13 van die SAOG-protokol oor openbare opvoeding en bewusmakingsprogram gebaseer is, moet strategieë vir die beheer van die vermeerdering van klein en ligte wapens opstel. Dit sluit in:
• die ontwikkeling van ‘n nasionale gemeenskaplike mobilisasie-program om die kwessies rondom klein en ligte wapens aan te spreek;
• om verdraagsaamheid en die behoefte aan alternatiewe weë om probleme op te los, te bevorder en daardeur die hoë aantal gevalle van geweld in die land aan te spreek;
• om alle Namibiërs te mobiliseer om die vermeerdering van, en aanvraag na wettige en onwettige vuurwapens teen te gaan en ‘n bewustheid van die gevare van lewendige geskut te skep; en

Senior hoofman Herman Iipumbu groet Minister Nickey Iyambo, terwyl luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga toekyk.
• om ‘n begrip onder Namibiërs te laat posvat, meestal onder leiers op alle vlakke, oor die gevaar van die onbeperkte vermeerdering van vuurwapens en hoe dit die land se vrede en veiligheid bedreig. Dr. Iyambo het in sy openingsrede gesê dat die Regering reeds ver gevorder het met die hersiening van die vuurwapenen ammunisie-wet van 1996 met die doel om voldoende reëls en administratiewe prosedures daar te stel wat die gapings in die wet sal sluit deur artikel 5 van die SAOG-protokol in die nasionale wet in te sluit.
“Die doel van die Namibiese regering is om die uitvoer, invoer, vervoer en die oordrag van vuurwapens asook die uitreiking van vuurwapenlisensies te reguleer om die onwettige vervaardiging en besit van vuurwapens asook hul oordrag aan ongemagtigde ontvangers te voorkom,” het dr. Iyambo gesê.
Volgens hom is die Regering en die Namibiese volk in geheel bekommerd oor die toenemende gebruik van vuurwapens deur kriminele om moord, poging tot moord, roof, verkragting, veediefstal, onwettige jag en voertuigkapings te pleeg. “Hierdie probleem moet as ‘n nasionale aangeleentheid beveg word, net soos ons die MIV/vigs-pandemie takel,” het hy gesê.
Hy het gesê Namibië met ‘n bevolking van sowat twee miljoen, het ‘n hoë per capita syfer van vuurwapens. Polisiestatistiek vanaf 1998 tot Julie vanjaar toon dat daar 121 139 gelisensieerde vuurwapens in private hande is. Misdaadstatistiek vir dieselfde tydperk waar vuurwapens betrokke was, toon 2 061 voorvalle van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, 4 604 voorvalle van die rig van ‘n vuurwapen, 660 voorvalle van moord, 2 649 voorvalle van poging tot moord, 4 000 gewapende rooftogte, 1 598 vuurwapendiefstalle en 22 pogings om vuurwapens te steel.
Nieteenstaande hierdie syfers wat hy as “vreesaanjaend” bestempel het, het dr. Iyambo die versekering gegee dat die hardwerkende wetstoepassingagentskappe daar is om te verseker dat die veiligheid en sekuriteit van Namibiërs nie bedreig word nie. Die omvang van die probleem vereis egter almal se samewerking.
“Die polisie moet meestal deur die media bygestaan word,” het hy gesê. Die slypskool wat deur die afgetrede Lutherse biskop, dr. Kleopas Dumeni, met skriflesing en gebed geopen is, is onder andere bygewoon deur die hoof van die polisie, luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga, die hoof van die Uukwambistam, senior hoofman Herman Iipumbu, koningin Martha Mwadinomho Nelumbu van Oukwanyama, streekgoewerneurs en streekraadslede van verskeie streke, senior polisie-offisiere en staatsamptenare.