’n SKOKKENDE toneel het gister namiddag in een van Windhoek se ryk woonbuurte ontvou met die stadspolisie en die polisie se vroue- en kindereenheid wat moes ingryp. Drie skoolgaande meisies is uit die huis verwyder en sal nou tydelik eers in ‘n kinderhuis opgeneem word.
‘n Onderwyser van een van die kinders het besoek by die huis gaan aflê en op ‘n gemors afgekom wat dit byna onmoontlik maak om in te woon. Dit is onder die aandag van die polisie gebring wat gister ook gesondheidsinspekteurs saamgeneem het om die huis te gaan besoek, Die kinders is glo aangeneem, maar die aanneem-ouer was nie in die stad nie.
Sy is werksaam by die Ministerie van Onderwys en was gister met werk buite Windhoek besig. Selfs die polisiebeamptes het hul skok en verbasing uitgespreek oor die onhigiëniese toestande waarin die drie meisies gewoon het. Oral in die huis was vlieë en brommers en ‘n stank het die verslaggewer en polisielede begroet.
Van buite gesien is daar tekens van verwaarlosing, maar binne die dubbelverdieping het verslaggewers van Republikein ‘n chaotiese toestand aangetref.
Een kamer het net gebreekte meublement in gehad en die deur kan skaars oopgemaak word as gevolg van klere en beddegoed wat aan die binnekant teen die deur opgestapel was.
Die eetplek was vuil en onhigiënies terwyl die slaapkamer lyk asof die beddens lank gelede opgemaak is. Boeke en rommel het die sitkamer volgelê.
Volgens ’n beampte van die Ministerie van Geslaggelykheid en Kinderwelsyn is twee van die kinders op hoërskool en die ander meisie nog op laërskool.