27.11.2009 Waak teen te veel son die vakansie
’n LUILEKKER vakansie langs die swembad of op die strand met die son as die beste vriend klink dalk na ’n wonderlike gedagte, maar dit kan lewensgevaarlik wees.
Namibië het van die hoogste ultravioletstralingsvlakke ter wêreld. Dit hou ’n gevaar vir ’n mens se gesondheid in deurdat dit skade aan die vel en oë aanrig en immuniteit onderdruk.
Dit is ’n kombinasie van chromosoomskade en immuniteitsonderdrukking wat blootstelling aan ultravioletstrale die gevaarlikste maak. Die son veroorsaak verskeie soorte velskade, sommige van kortstondige aard en ander met langdurige effekte.
Velspesialiste meen dat hoewel erge sonbrand pynlik en ondraaglik is, dit die langtermynskade is wat die gevaarlikste is en selfs dodelik kan wees. Boonop hou die son nie net ’n gevaar vir ’n mens se vel in nie.
Die oë kan ook deur ultravioletstrale beskadig word deur erge blootstelling in die korttermyn of minder ernstige blootstelling in die langtermyn. ’n Verband tussen die vorming van katarakte en blootstelling van die oë aan sonlig bestaan.
Sekere medikasie maak die vel meer sensitief vir die son of veroorsaak abnormale pigmentasie wanneer die vel aan die son blootgestel word.
Velsoorte reageer verskillend op die son, maar geen vel is immuun teen sonskade nie. Diegene wat ’n ligte vel het, moet veral versigtig wees wanneer hulle in die son kom. Velle wat van nature donkerder is, is minder vatbaar vir sonskade en siektes soos velkanker.
Dit is belangrik dat ’n mens seker moet maak dat kinders nie aan te veel son blootgestel word nie. Dit word beraam dat 80% van ’n mens se leeftydblootstelling aan die son voor die ouderdom van twintig jaar gebeur. Dit is ook reeds vasgestel dat kwaadaardige melamine, die ernstigste vorm van velkanker, deur erge sonbrand of blootstelling aan die son in mense se jong dae veroorsaak word.
Velspesialiste beveel aan dat sonskerms regdeur die jaar aangesmeer word. Gebruik altyd ’n sonskerm wat ultraviolet A en B-strale van die vel weghou en sorg dat dit ’n beskermingsfaktor van hoër as dertig het. Dit sal die vel sowat vyf uur lank teen die Namibiese son beskerm.
Onthou, ultravioletstrale is nie sigbaar of voelbaar nie en dit het min met hitte te doen. Dit is ook belangrik om te weet dat tot 80% van die son se skadelike strale steeds op ’n bewolkte dag die vel beskadig.
Babas behoort nooit sonder klere buite te wees nie. Blootstelling aan die son kan sproete, plooie en sonkolle veroorsaak wat later in velkanker kan ontwikkel. Ouers behoort buitelugbedrywighede vir kinders te beplan sodat dit voor tienuur soggens of ná drieuur smiddae plaasvind, omdat die stralingsvlakke van die son dan laer is.
Omdat die son ’n mens se vel uitdroog, is dit ook belangrik dat ’n sonbeskermingsroom gebruik word wat ’n velbevogtiger bevat en wat waterbestand is. Dit word ook aanbeveel dat verskeie vitamiene waaronder vitamiene C en E, ingeneem word wanneer blootstelling aan die son plaasvind.
Dra klere en hoede wat die gesig, nek en ore bedek en dra altyd ’n sonbril.
Statistieke toon dat die publiek en veral jong en professionele mense baie min kennis van velkanker het. Mense is in die algemeen nie geneig om mediese advies in te win wanneer hulle veranderinge in die grootte en/of kleur van moesies opmerk nie. Dit is raadsaam om jou vel gereeld te inspekteer vir veranderinge soos velverdikkings en vlekke, en om ’n dokter of velspesialis betyds te raadpleeg om moontlike tragiese gevolge te vermy.
|