27.11.2009
Vyftien vakansie plekke in ons land

Versteende woud
ONS mooi land spog met honderde asemrowende besienswaardighede en tog is ’n mens amper geneig om elders te wil vakansie hou of reis eerder as jou eie land se prag en uniekheid te besigtig. Hier is maar ’n paar van die trekpleisters wat nie altyd te ver of te duur is om te besoek nie:
Popa- en Epupa-valle
Hoewel die twee valle in teenoorgestelde rigtings van mekaar lê, is albei ewe mooi. Eintlik is dit ook nie werklik ‘valle’ nie, maar eerder ’n rits stroomversnellings.
Die Popa-valle is in die Okavangorivier geleë met ’n val van sowat vier meter. Die beste besigtingstyd is in die droë seisoen omdat die rotsriwwe wat die versnellings veroorsaak andersins onder water is.
Die Epupa-valle is ook een van die land se top toeristebestemmings. Dit is ’n reeks kaskades waar die Kunenerivier met 60 m val oor ’n afstand van sowat 1,5 km en daarna in ’n reeks kanale verdeel om talle rotspoele te vorm. Jy mag in die poele swem, maar hou ’n oog oop vir krokodille. Verder bied die gebied rondom die valle baie om sien en te ondervind in terme van flora en fauna, wonderlike sonsondergange en hier en daar Himba-nedersettings.
Sandvishawe
Suid van Walvisbaai, tussen die Atlantiese Oseaan en die reuseduine van die Namib, is Sandvishawe ’n unieke vleiland. Soutwater vloei by die getypoele in terwyl vars water onder die duine insyfer om waterbanke te vorm. Die hawe is ook ’n uit-stekende voorbeeld van hoe ’n woestyn eintlik kan indring op groter nedersettings en dorpe.
Met ’n nou strand aan die een kant en reuseduine aan die ander kant, is die Sandvishawe strandmeer 11 km lank en 3,5 km wyd. Die hoek van die Namib-Naukluftpark wat die hawe in beslag neem, is in effek die enigste mariene reserwe in die land omdat sy grense 1,6 km die see in en oor 45 km langs die kuslyn strek.
Volgens legende is ’n skip gelaai met ivoor, goud en waardevolle stene in die duine begrawe, wat die geheimsinnigheid van die gebied verder verdiep. ’n Besoek aan die hawe is beslis ’n baie spesiale dagreis, maar onthou dat jy ’n permit en ’n 4x4 nodig het om daar uit te kom.

Brandberg
Brandberg
Die imponerende Brandberg-massief bied ’n uitdaging aan alle ywerige stappers en klimmers, veral die Königstein, wat teen 2 574 m die hoogste punt in Namibië is. Die Brandberg is ook bekend vir die White Lady, ’n rotsets wat besigtig kan word by Maack’s Shelter, wat vernoem is na ’n opmeter wat dit in 1917 ontdek het. Die tekening het egter eers in 1955 aan internasionale rotskunskenners bekend geword toe die Franse argeoloog Abbe Henri Breuil dit afgeteken en beskryf het. Intussen het die ets gesorg vir groot kontroversie oor die betekenis en oorsprong daarvan. Daar is ook honderde ander rotstekeninge en -etse in die omgewing.
Die nabygeleë Messum-krater spog ook met uitstekende voorbeelde van die Welwitschia mirabilis.
Versteende Woud
Die Versteende Woud is ’n geologiese terrein wat sowat 50 km wes van Khorixas geleë is. Hier lê ’n groot hoeveelheid versteende bome in ’n sandsteenbed.
Sommige is gedeeltelik bedek terwyl ander heeltemal aan die elemente blootgestel word omdat die sandsteen wat hulle deur die eeue heen omhul het, deur wind en weer weggevreet is. Kenners meen die bome is sowat 250 miljoen jaar gelede met ’n rivier afgespoel voordat dit op ’n sandbank vasgespoel het. Intussen het sand rondom die stamme opgedam en is die ideale omstandighede geskep vir houtselle om met silikaat vervang te word. Op die wyse het die hout versteen. Die “woud” strek oor ’n gebied van 800 m by 300 m en is in die Aba Huab-riviervallei geleë. Daar is minstens vyftig bome, waarvan sommige net in ’n klein mate blootgestel is.
Die gebied is in 1950 tot ’n nasionale monument verklaar, maar loop ongelukkig onder besoekers deur wat graag ’n stukkie versteende hout wil huis toe neem.
Kaokoland se woestynolifante
Kaokoland, wat bekend is vir asemrowende landskappe, is die tuiste van woestynolifante, swartrenosters en kameelperde. Die olifante hier is nie ’n subspesie van die olifant nie, maar die ware Afrika-olifant wat homself aangepas het om in woestyntoe-stande te oorleef. Die olifante maak staat op hul kennis van die beskikbare kos-en waterbronne: hulle sal selfs reusegate grawe om water te soek. Sodoende word ook water verskaf aan ander diere in die omgewing. Meeste gewone olifante sal op ’n daaglikse basis water drink, maar in dié verafgeleë gebied kan hulle tot vier dae sonder water gaan. Ongelukkig het olifant-en renostergetalle in die 70’s en 80’s aansienlik verminder en doen bewaringsorganisasies nou hul bes om hierdie sensitiewe diere te beskerm.
Botaniese tuine in Windhoek
Die Nasionale Botaniese Tuine van Namibië is ’n subseksie van die Nasionale Botaniese Navorsingsinstituut (NBRI) en val onder die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou. Die tuin is geleë in die hartjie van Windhoek en bestaan uit ’n 11-hektaar-eiendom wat ’n kwekery en woestynhuis insluit. Dit dien as ’n onderrig-en ontspanningsgebied vir studente en die publiek. Die klem lê op bome, struike en grasse in hul natuurlike omgewing. Verskeie staproetes lei deur die tuin en talle bome en struike spog met etikette om identifikasie te vergemaklik.
Die grond is in Oktober 1969 deur die Regering aan die stadsraad geskenk en is daarna tot ’n wildreservaat geproklameer en as tuin ontwikkel. In die vroeë 1970’s het die voormalige departement van natuurbewaring staproetes gemaak, ’n besproeiingstelsel geïnstalleer en verskeie inheemse plante, waarvan sommige vandag groot aanloklikhede is soos die Aloe dichotoma, aangeplant.
Hierdie aktiwiteite het ongelukkig vinnig tot ’n einde gekom weens ’n gebrek aan geld en daarna is baie plante verwyder en fasiliteite verwoes. In September 1990 het die NBRI na die terrein langs die gebied verhuis. In Julie 1992 is samesprekings met die Ministeries van die Omgewing en Landbou begin en het die NBRI uiteindelik in Februarie 1993 die reg ontvang om die gebied in ’n botaniese tuin te ontwikkel.

Sossusvlei
Dooievlei (Sossusvlei)
Geografies gesproke is Dooievlei ’n kleipan in die vloedpleine van die Tsauchabrivier wat ’n gemiddeld van een keer per dekade vloei. Slegs na swaar neerslae vul die vlei met water, wat ’n wonderlike sig is om te aanskou. Omdat die klei bykans geen water laat deursyfer nie, kan die water tot ’n paar weke bly lê. Rondom die pan is duine wat tot 350 m hoog is – van die hoogstes ter wêreld. Die pan self bestaan uit droë, wit klei met net ’n paar geraamtes van antieke kameeldoringbome wat ’n verhaal vertel van ’n tyd toe water in oorvloed was.
Giant’s Playground en Kokerboomwoud
Net buite Keetmanshoop is nog twee van die land se indrukwekkende bestemmings. Rotse en bome net waar jy kyk.
Kokerbome kom algemeen voor in die suidelike gedeeltes van die Namib en Noord-Kaap, maar is raar in ander gedeeltes. Hoewel die gebied in die suide van Namibië as die Kokerboomwoud bekend is, is hierdie bome eintlik glad nie bome nie: dit is ’n soort aalwyn (aloe dichotoma in Latyn), dus amptelik ’n plant!
Die tweede aanloklikheid is Giant’s Playground – ’n massiewe versameling balanserende rotse wat te danke aan winderosie gevorm is. Hier is ronde rotse hoog op mekaar gestapel, soms in gevaarlike posisies wat lyk asof dit binnekort gaan kantel. Maar helaas, só maklik sal dit ook nie gebeur nie – dit staan reeds miljoene jare so. Tog kan mens nie help om te dink dat reuse werklik hier gespeel het nie.
Grotte
Namibië spog met meer as ’n honderd grotte waarvan sommiges nog nie eens verken is nie. Die Arnhemgrotte is die grootste in Namibië met meer as 4 500 m se gange en dieptes van tot 110 m. In vergange dae is guano daar uitgehaal. Die grotte is ook die tuiste van ses vlermuisspesies, insluitend die spesie wat die meeste insekte ter wêreld eet.
Verder noord, in die Outjo-omgewing, is drie grotte vir toeriste toeganklik: die GamKarab, die Münsterland en die Mooihoek-grotte.
Meeste van die land se grotte is vertikaal en kan slegs deur ervare spelonkondersoekers verken word. ’n Voorbeeld hiervan is Dragon’s Breath, waar Harasib, die wêreld se grootste bekende ondergrondse meer, aangetref word.
Andersins is daar in Namibië net twee ander grotte wat meer as 1 000 m lank is en net 14 wat langer as 500 m is.
Die Nasionale Museum handhaaf ’n grotregister waar nuwe grotte ook geregistreer kan word. Soos in meeste ander lande is die formasies, fauna en toestande van Namibiese grotte uiters sensitief en ongelukkig het van die meer bekende en toeganklike grotte reeds baie onder besoekers deurgeloop. In pas met die beskerming van die ekologies-sensitiewe areas, maak die museum slegs die ligging van grotte bekend aan bona fide ondersoekers en hulle word versoek om nie die ligging daarvan in openbare geskrifte bekend te maak nie.