16.03.2010 VSA ontevrede met stand van menseregte
NAMIBIË het kwaai deurgeloop in die menseregteverslag vir 2009 wat pas deur die Amerikaanse buro vir demokrasie, menseregte en arbeid gepubliseer is.
Van die menseregtevergrype wat in die verslag uitgelig word, sluit in die polisie se gebruik van uitermatige mag; swak toestande in gevangenisse en sentrums van aanhouding; arbitrêre aanhoudings en lang vertragings in verhore; beperkings op persvryheid; kritiek teen nie-regeringsinstellings; teistering en politieke intimidasie van lede van opposisiepartye asook amptelike korrupsie.
Gemeenskapsvergrype sluit in geweld teen vroue en kinders insluitende verkragting en kindermisbruik; kinderarbeid asook diskriminasie teen vroue, etniese minderhede en inheemse mense.
Wat die arbitrêre en onwettige ontneming van lewe betref, meld die verslag ondersoeke deur die polisie wat nog nie afgehandel was teen die einde van 2009 nie van ’n saak in Februarie 2008 toe ’n polisiebeampte ’n betoger geskiet het wat ’n polisiekonstabel met ’n mes aangeval het; ook geen vordering in die 2007-ondersoek na die dood van mnr. William Cloete wat versmoor het toe hy deur die polisie op Rosh Pinah in ’n verskepingshouer aangehou is nie.
Die verhoor van ses polisiemanne wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n verdagte tydens ondervraging in 2006 vermoor het, het ook nog voortgeduur.
Die Regering het nie teen die einde van verlede jaar gehoor gegee aan ’n versoek van die Verenigde Nasies om die ses massagrafte wat in Augustus 2008 langs die Angolese grens gevind is, te verduidelik nie.
Wat marteling en ander wrede, onmenslike en vernederende optrede betref, meld die verslag dat geen ondersoek deur die polisie gelas is na beweringe dat die Windhoek stadspolisie vermeende verdagtes in ’n geheime sel mishandel het voordat hulle aan die Namibiese polisie oorhandig is nie.
Die verslag skenk ook omvattende dekking aan die haglike toestande in Namibië se oorvol gevangenisse, wat nie behoorlik in stand gehou word nie en basiese sanitasie kortkom, asook die feit dat gevangenes nie voldoende hoeveelhede voedsel ontvang nie.
Die Regering het wel voortgegaan om beide plaaslike en internasionale nie-regeringinstansies gereelde toegang tot gevangenisse en gevangenes te gee.
Oor die polisie het die verslag bevind dat korrupsie en die feit dat die polisie ongestraf en onvervolg bly, probleme is. Sommige lede van die veiligheidsmagte is van misbruik van hul magte beskuldig en in militêre en siviele kriminele howe verhoor, maar teen andere het die Regering in gebreke gebly om op te tree. Al maak die Grondwet voorsiening vir die reg op ’n regverdige verhoor, is dié reg aan bande gelê deur lang vertragings met verhore in gewone howe en ’n ongelyke toepassing van grondwetlike beskermingsmeganismes in die tradisionele stelsel.
Geen verslae van politieke gevangenes of aangehoudenes is ontvang nie. Die aanvaarding van die Wet op Kommunikasie wat ook klousules bevat om onderskepping van inligting vervat in persoonlike kommunikasie te magtig mits toestemming van die Regterpresident ontvang is, word in die afdeling oor inmenging in privaatheid, die huis of korrespondensie gemeld.
Uitlatings deur sekere politici, in besonder die Swapo sekretarisgeneraal en Minister van Justisie, me. Pendukeni Iivula-Ithana, teen die redakteur van ’n Engelstalige dagblad, word in die verslag uitgesonder betreffende vryheid van spraak en die pers.
Die aanhouding van ’n Britse joernalis en Suid-Afrikaanse kameraman asook die 2008 inhegtenisneming van ’n Carte Blanche-korrespondent word ook in die verslag genoem. Heelwat aandag word bestee aan die optrede van Swapo-ondersteuners wat in die aanloop van die 2009-verkiesings vergaderings van die Rally for Democracy and Progress (RDP) ontwrig en hulle verhinder het om openbare vergaderings te hou.
Wat die verkiesings betref, bevind die verslag dat waarnemers die ondoeltreffende stemtellery en ongelyke toegang tot mediadekking asook finanisering vir veldtogvoering, gekritiseer het.
Amptenare gaan volgens die verslag voort om hulle skuldig te maak aan korrupte praktyke en selfs die Wêreldbank het in ’n onlangse studie bevind dat korrupsie ’n probleem in Namibië is.
Die verslag berig oor die werksaamhede van die Teenkorrupsie Kommissie. Die voortgesette kritiek van Swapo-leiers teen die direkteur van die Nasionale Vereniging vir Menseregte, mnr. Phil ya Nangolo, word ook gemeld.
|