
Andrew Malherbe en Sonje Fraser by klein James in ‘n leefkamer in hul Swakopmundse woonstel. Klein James wis van niks, hou van snags kuier en bedags slaap.
‘n JONG Swakopmundse ma het gister van die wonder van die lewe vertel nadat sy Dinsdag in ‘n kraamsaal op die dorp self gehoor het hoe twee dokters haar as dood verklaar.
Sonje Fraser (24) en haar baba, James, ‘n bul van 3,8 kg, was gister perdfris in hul woonstel naby Swakopmund se sentrale sakegebied. Die drama in di e kraamsaal van die Swakopmundse staatshospitaal het volgens Sonje se weergawe van omstreeks vieruur Dinsdagmiddag tot die aand om halfagt geduur met ‘n krisisspits van ‘n uur en twintig minute.
Die gelowige jong vrou en haar mense skryf haar lewe toe aan die wonder van gebedskrag in die kraamsaal, maar ook haar famieliekring op Hentiesbaai. In die sowat tagtig minute was daar ‘n gleuf waarin sy geen lewensfunksie ervaar het nie en waarvan sy ook niks weet nie. Buite die kraamsaal het haar lewensmaat, Andrew Malherbe, en ‘n broer in angs gewag met onderbrekings deur twee geneeshere van Zambië wat in en uit gestorm het.
Dit was uit die kringetjie wat die tyding van haar “dood” ook Hentiesbaai bereik het en ‘n gebedskring van haar ma, Estelle Fraser, aangegryp het. James is Sonje se tweede baba. Die eerste, ‘n meisietjie van twee jaar, Kai, was gister in die woonstelblok Am Zudring, in haar skik met die koms van die maatjie. Sonje het aan Republikein vertel sy het gevoel hoe ‘n koue haar van haar voete oorval en boontoe beweeg het. Klein James was toe reeds gebore.
Toe die koue haar bors bereik het, het sy agteroor geruk. Eensklaps was alles voor haar swart. Sy het waargeneem wat om haar gebeur, maar het vergeefs geprobeer om ‘n hand te lig en iets aan die kraampersoneel te beduie. “Ek kon nie asem kry nie. My brein-, hart- en longfunksie was nie meer daar nie. Toe het ek self een van die dokters hoor sê: ‘She’s gone’. Eers later sou ek verneem dat hulle in die stadium mond-totmond- asemhaling en hartmassering toegepas het. Self was ek magteloos.
“Ek het nie asem gekry nie. Ek het kraampersoneel wel hoor sê: ‘Don’t panic! Don’t panic!’ Veel later was ek weer by. “Uiteindelik het ek ‘n hand kon lig en beduie dat ek hulp met my asemhaling moet kry. Iemand het my naam genoem en ek my oë oopgemaak. Hulle het suurstof gegee en my lugweë skoongesuig.” In ‘n stadium was al die masjiene en mediese hulpmiddele reeds afgeskakel.
Buite het geneeshere die wagtende James en haar broer gevra of sy ooit aan siektes of epileptiese aanvalle gely het. Die antwoord was nee. Aan haar ma, Estelle Fraser van Hentiesbaai, het Sonje vertel hoe sy in ‘n stadium haar dogtertjie, Kai, se gesig gesien het. Sy het ook verneem van die kraamverpleegsters wat die naam Jesus uitgeroep het.
‘n Kraamverpleegster, Klasina Maletsky, het op haar knieë geval en gebid. Vir Klasina was daar gistermiddag sjokolade van die dankbare jong ouers. Estelle Fraser het aan Republikein gesê sy is lid van ’n gebedskring wat elke Maandagoggend vergader. Nadat sy die tyding gekry het, het sy ander lede van die kring geaktiveer om in gebed oor te gaan. “Ek weet dat God tot alles in staat is.
Ek weet dat gebed alles kan verander. Ek was reeds op pad na Swakopmund toe ek weer die hospitaal geskakel het. Toe was die blye nuus dat Sonje bygekom het en dat alles wel is.” Dinsdagaand is Sonje na die Cottage/Mediclinic oorgeplaas en teen die naweek was sy reeds op Hentiesbaai en toe terug na Swakopmund.