’n PADONGELUK in Onafhanklikheidslaan naby die Katutura staatshospitaal het gistermiddag nie net die besige verkeer vertraag nie, maar was selfs die voorskou tot ’n onderonsie waarin geregsdienaars ’n vuurwapen gekonfiskeer het.
Die taxidrywer van die Mazda 323 (N68709W) wat onder ’n Scania-vragmotor ingery het, het ná die botsing uitgespring en van die toneel verdwyn.
Die bestuurder van die vragmotor, mnr. Shilongo Jekonia, sê die taxidrywer wou na die baan waarin die vragmotor was, verwissel en hy het hom dalk misgis met die spoed van die vragmotor. Die taxi het onder die sleepwa se wiele beland.
Terwyl beamptes van die stadspolisie op die toneel was, het die vragmotordrywer met ’n ander taxidrywer handgemeen geraak. Die beamptes moes die twee uitmekaar haal en in die proses is ’n vuurwapen aan die tweede taxidrywer se persoon ontdek.
Hy het glo wel ’n lisensie vir die vuurwapen gehad, maar vanweë die stryery het die polisie die wapen voorlopig by hom afgeneem.
Volgens die polisie sou ’n klag van aanranding teen die vragmotordrywer gemaak word.