19.08.2010 Voorwaarts SADC, sê Windhoek-beraad
 Dr. Tomaz Salomão, uitvoerende sekretaris van SADC, en me. Leefa Martin spreek die media toe ná die pas afgelope SADC-beraad vir ministers en staatshoofde in Windhoek.
ONDANKS oogluikende tekens van politieke stremminge binne SADC was eenheid vir vooruitgang die sentrale boodskap met die afsluiting van die ontwikkelingsgemeenskap se 30ste jubileum-beraad in Windhoek.
“Die resultaat is dat ons verenig is. Ons is saam,” het dr. Tomaz Salomão laat Dinsdagaand die betekenis van nege dae se samesprekings saamgevat.
“Ons het ’n duidelike padkaart. Ons wil ’n sterk, ’n baie sterk streek bou,” het SADC se uitvoerende sekretaris benadruk. “Ek glo ons is uiteindelik almal gelukkig.
“Staatshoofde het saamgestem dat ons meer klem op ekonomiese ontwikkeling moet plaas,” het dr. Salomão gesê. “Ons het vrede, ons het veiligheid.”
Lidlande self, het hy benadruk, bepaal die sukses van besluite aangesien die streekliggaam self net ’n fasiliteerder vir vooruitgang is.
Die Windhoek-beraad het ’n beroep op Lesotho gedoen om die verkiesingswet in die land as ’n saak van dringendheid te wysig.
Vir die geskorste Madagaskar was daar ’n hernude beroep op internasionale ondersteuning. Om onderhandelinge te bevorder, sal SADC ’n skakelkantoor in die land open.
Leiers het egter benadruk dat enige skikking om “grondwetlike normaliteit” in die land te herstel op neutraliteit, konsensus, geloofwaardigheid en inklusiwiteit gebaseer moet wees.
Sanksies teen die land sal intussen voortduur.
Onder die beraad se ander besluite tel:
• ’n Kennersondersoek na die gevare van seerowery aan die kusgebiede van die Seychelles, Mauritius en Tanzanië.
• Die verdere verbetering van voedselproduksie om wanvoeding te beveg. Lidlande is herinner aan Afrika se voorneme om binne vyf jaar in al die vasteland se voedselbehoeftes te voorsien, terwyl die SADC-sekretariaat beveel is om toegang te probeer kry tot US$22 miljard se bronne beskikbaar as deel van die L’aquila Voedselveiligheidsinisiatief van die Groot Agt.
• Lidlande is versoek om die stryd teen MIV/vigs en siektes soos malaria en TB nog verder op te skerp. Ook die gesondheid van moeders en kinders moet volgens staatshoofde meer aandag kry.
• Regerings moet volgens die beraad terugslae omkeer vir geslagsgelyke verteenwoordiging in politieke en ander besluitnemingsforums in lidlande. Die belang van die bemagtiging van vroue om armoede te beveg, is herbekragtig.
’n Ou idee uit 2008, waarin volgens staatshoofde nuwe lewe geblaas moet word, is die skepping van ’n “armoede-observatorium”, wat toesig oor die streekwye uitroei van die euwel moet hou. Volgens dr. Salomão sal die funksie voorlopig deur die SADC-sekretariaat in Gabarone behartig word totdat verdere besluite geneem kan word.
|