2.02.2010 Voorpunt van Oranje-vloed by Noordoewer
 Die grafiek van die Suid-Afrikaanse departement van water en bosbou wys wat is die verwagte styging van die Oranjerivier in die volgende dae by Vioolsdrif (Suid-Afrikaanse kant van die grens by Noordoewer). Die grafiek is verkry van www.dwa.gov.za.
DIE voorpunt van die vloed in die Oranjerivier het gister laatmiddag Noordoewer bereik, met die verwagte hoogtepunt teen middel volgende week.
Intussen is inwoners langs die laer-Oranjerivier reeds besig om voorbereidings te tref. Swaar reën het die afgelope tyd oor die sentrale en noordoostelike dele van Suid-Afrika voorgekom en damme in die Vaalrivierstelsel, soos die Bloemhof- en Vaaldam, se vlakke tot oor die 100% laat styg.
Die damme se sluise is verlede week oopgetrek om water uit te laat en hul vlakke te laat sak.
Mnr. Dries Visser, hoofingenieur van infrastruktuur by die departement Waterwese in Suid-Afrika, sê volgens ’n modelvoorspelling behoort die Oranjerivier by Vioolsdrift op 10 Februarie sy hoogtepunt te bereik met sowat 3 200 kubieke meter water wat in die rivier sal vloei.
Hy verduidelik dat water uit die damme aanvanklik vanaf 200 m³/s water uitgelaat is en die uitlaattempo stelselmatig tot in die duisende m³/s vermeerder is. Dus is dit nou net die voorpunt van die water wat afkom.
By Kakamas het die rivier sedert Sondagaand begin styg, “maar dit was nie ’n vreeslike volume water nie.” Sowat 600 m³ water het in die rivier gevloei.
Intussen sê mnr. Albert van der Merwe van Noordoewer dat vanweë die verwagting dat die rivier tot 6 meter sal styg, word voorbereidings getref soos om walle teen die rivier te stoot.
“Dit is ’n hoop water,” het hy die massa water beskryf wat verwag word. Dit word verwag dat die water ook tot in die landerye langs die rivier sal opstoot.
Die Oranjerivier by Noordoewer was teen gister 0,21 meter hoog.
Die Bloemhofdam was gisteroggend 120% vol met ’n invloei van 3 600 m³/s en die uitlaat van water was 3 400 m³/s.
Die Vaaldam se uitlaattempo is gister tot 1 700 m³/s verminder nadat een van die dam se sluise toegemaak was. Die dam was gister 108% vol.
|