10.11.2009 Volkslied is myne, sê Hamutenya
DIE president van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Hidipo Hamutenya, sê hy kan bewys dat hy wel die skrywer van die lirieke van die volkslied is.
Dit volg na Swapo se sekretarisgeneraal, me. Pendukeni Iivula- Ithana, verlede week op ’n nuuskonferensie gesê het mnr. Hamutenya “beweer” outeurskap van die volkslied terwyl die skrywer bekend is en nog lewe.
Mnr. Hamutenya het teruggekap en vertel dat mnr. Bob Kandetu en mnr. Hamutenya se persoonlike assistent van destyds, me. Maria Mushimba, kan getuig dat hy die woorde van die volkslied geskryf het omdat me. Mushimba die verskillende konsepte wat hy geskryf het, moes tik.
“Ek moes op daardie tydstip Kuba toe gaan en het die finale konsepte saamgeneem en tydens die 17 uur lange vlug na Havana daaraan gewerk.”
Van Havana is hy New York toe waar hy die bekende Suid-Afrikaanse musikant, Dollar Brand, ontmoet en die lirieke aan hom gewys en gevra het dat hy vanuit ’n musikale oogpunt daarna moet kyk en bepaal of die woorde in ’n lied sou pas.
Met sy terugkeer na Namibië het hy mnr. Axali Doëseb na Londen gestuur om daar saam met Dollar Brand aan die toonsetting van die volkslied te werk.
“Almal weet dat ek die lirieke geskryf het en hy die musiek. Dit sou teoreties en ideologies nie vir hom moontlik gewees het om die lirieke te skryf nie,” het mnr. Hamutenya gesê.
|