23.01.2012
Vloedkampe ontvang reeds huisgesinne

Inwoners van die Oshoopala woonbuurt is reeds Vrydag na die tydelike kamp hervestig.
NÁ onlangse swaar reënval moes die Oshoopala vloedkamp by Oshakati Vrydag opnuut vir vloedgeteisterdes heropen nadat talle inwoners se wonings onder water was.
Die noodwerkers van die Oshakati dorpsraad moes deurnag werk om die tente op te slaan en om die vloedgeteisterde inwoners te hervestig, van wie die meeste langs die pad gestaan het met die besittings wat hulle kon red.
Teen Saterdagoggend was 18 tente reeds in die kamp opgeslaan en skuiling is aan 50 gesinne gebied, maar talle mense het nog gewag om hervestig te word.
Die Oshoopala woongebied is tot dusver die ergste geraak. Ná twee dae van swaar reën was die inwoners onverhoeds betrap deur die nabygeleë oshana wat oorstroom het.
“Toe ons Donderdagaand gaan slaap, was hier niks water nie, maar toe ons die oggend wakker word, was die huise reeds onder water,” het een inwoner gesê wat Vrydag vroeg sy huis moes ontruim.
“Om in Januarie reeds na die kampe te gaan, beteken waarskynlik dat ons langer in die kampe sal moet bly as in vorige jare,” het ’n inwoner gesê terwyl hulle Vrydagaand hul besittings van ’n munisipale vragmotor afgepak het.
Die getal vloedgeteisterde inwoners het vinnig toegeneem namate die water van die oshana dieper in die woongebied beweeg het.
Die dorpsraad se woordvoerder, mnr. Jackson Muma, het gesê dit is die eerste keer dat die dorpsraad reeds in Januarie mense moes ontruim en tydelike skuiling gee.
Mnr. Leonard Hango, ’n hidroloog van die departement Water en Bosbou, het gesê die noordelike streke het verlede week swaar reën gehad, meestal in die gebied noord van Oshakati en suid van Ondjiva en dat die water wes beweeg.
Volgens Hango het die huidige reënseisoen vroeër as verlede jaar s’n begin.
“Ons het in Desember reeds goeie reën gehad, maar die vorige seisoen het ons noemenswaardige reënval eers aan die einde van Januarie begin,” het hy gesê.
Hy het gesê tesame met die swaar reën is baie oshanas steeds vol water van die vorige jaar.
“Talle oshanas het water van die vorige seisoen gehad en met die onlangse swaar reënval is die oshanas reeds aan die oorstroom,” het hy gesê.
Dié verskynsel het Hango kommer laat uitspreek oor wat sal gebeur as die seisoenale efundja uiteindelik van die suide van Angola aankom.
Volgens me. Saara Iipinge, woordvoerder van die Namibiese Rooikruisvereniging (NRCS), is onderskeidelik ses en vier tente vir vloedslagoffers ook na die Okalongo- en Outapi-kiesafdelings gestuur.
“Ons het begin voorsorg tref in samewerking met die Regering en streekrade,” het sy gesê. Van die noodsaaklike noodlenigingsitems wat reeds na die Noorde versend is, sluit in higiënestelle, komberse en grondseile.
“Ons vrywilligers is op bystand,” het Iipinge gesê ingeval toestande vererger. “Ons het voorrade beskikbaar.”
Die enigste vloedkamp wat nog sedert 2010 se vloede oop is, is by Sarasungu in die Kavango. Die kamp huisves sowat 70 mense.
In die Caprivi was dit nog nie nodig om enige vloedskuilings te open nie, maar volgens Iipinge het reeds drie skole in die streek onder vloedprobleme gebuk gaan.
Volgens voorspellings kan ’n normale tot bo-normale reënseisoen verwag word.
Volgens die jongste verslag van die hidrologiese afdeling is die vlakke van die Okavango-, Kwando- en Zambezirivier steeds besig om te styg, maar die invloei in die Cuvelai oshanas is aan die afneem. In die stadium word geen onmiddellike risiko vir groot vloede voorspel nie.
Verskeie dorpe het die naweek goeie reënneerslae gehad met Gobabis se reënsyfer van 64,8 mm die hoogste. Ander plekke waar meer as 20 mm reën die naweek geval het, was Otjiwarongo 28 mm, Katima Mulilo lughawe 56,6 mm en Buitepos 42,6 mm.
Ander reënvalsyfers was Windhoekse weerkantoor 19,2, Hosea Kutako lughawe 17,2 mm, Okakarara 16,5 mm, Mariental 13,4 mm, Maltahöhe 10,6 mm, Grootfontein 9,4 mm en Keetmanshoop 8,5 mm.
Die binneland sal vandag mooiweer en warm tot baie warm in die Suide en Weste wees. Elders sal dit gedeeltelik bewolk wees met reën- en donderbuie.
Hoofredaksie