5.02.2010 Vloed se piek volgende week
VLOEDWATER is steeds besig om deur die laer Oranjerivier te beweeg, terwyl in die Noorde droër toestande by die Cuvelai-oshanas intree met die watervloei wat aan die afneem is.
Die eerste styging by Noordoewer is reeds Dinsdag aangeteken en die Suid-Afrikaanse departement van watersake (DWA South Africa) voorspel ’n skerp toename tot 7 Februarie met die toppunt op 12-13 Februarie. (Kyk grafiek).
Vanweë die geleidelike toename in die wateruitlatings by die Bloemhofdam in Suid-Afrika sal die watervlakke en vloei van die Oranjerivier oor ’n tydperk van tien dae styg. Die verwagting is dat die watervlak by die brug by Noordoewer van die normale 0.50-1.00 m tot hoër as 7 m sal styg.
Die laaste wateruitlatings van vergelykbare volume in die Bloemhofdam was 2 400 m³/s in 1996. Die watervlak by Noordoewer was toe steeds laer as 6.00 m. Volgens inligting deur DWA South Africa het die Bloemhofdam gisteroggend op minder as 120 persent gestaan, met uitlatings wat deur die dag sou verlaag van 3 400 m³/s tot minder as 3 000 m³/s.
Die Gariep- en Vanderkloofdam in die Oranjerivier is ook vol, met die eerste oorvloei by die Vanderkloofdam wat op 8 Februarie verwag word. Dit sal die duur van hoë vloei in die Oranjerivier verleng.
Vanweë die feit dat dit moeilik is om te voorspel watter skade en ontwrigting die vloedgolf kan veroorsaak, word mense langs die Oranjerivier gewaarsku om op hul hoede te wees en voorbereidings te tref. Ondanks die vloedgolf in die Oranjerivier is droogte besig om die oorhand te kry in die sentrale noordelike en sentrale suidelike gedeeltes van onderskeidelik Namibië en Angola.
Volgens die vloedverslag behoort meer kom- mer oor droogtetoestande as oor moontlike vloede te heers.
Verder wys die daaglikse vloedverslag daarop dat die vloed in die Okavangorivier verby Rundu beweeg het, met geen nuwe berigte van reën nie. Die vloed is besig om af te neem.
By Katima Mulilo styg die vlak van die Zambezirivier steeds met meer water wat ná reën in die hoërliggende opvanggebied op pad is.
Die vloei in die Cuvelai-oshanas neem af en droër toestande is besig om in te tree.
’n Styging van 47 cm is sedert Dinsdag by die Katlani-meetstasie by die Oranjerivier gemeet. Die vlak het gisteroggend op 6.46 m gestaan.
Francios Olivier
|