24.07.2008
Viswaarnemers in opstand
WAARNEMERS van die Visserye se Waarnemingsagentskap is op die oorlogspad. ’n Halfdosyn en meer amptenare van die agentskap word geteiken in ’n petisie wat dié week op Walvisbaai namens die waarnemers aan die bestuur oorhandig is ná ’n vreedsame betoging van sowat 60 waarnemers. Die betoging is gemik teen onredelike arbeidsbetrekkinge wat deur die bestuur beoefen word.
Sentraal in hul verset staan oortydvergoeding vir diens in naweke en op openbare vakansiedae. Dit is dae wanneer daar tot 16 uur per dag gewerk word. Oortydvergoeding geskied dan nie op werklike ure nie, maar volgens die diskresie van die bestuur, volgens ’n geskrewe dokument in besit van Republikein. As voorbeeld word 50 minute oortyd bereken teen ’n tarief vir ’n halfuur.
Die bestuursoptrede strook blykbaar ook nie met ’n ooreenkoms wat in 2004 tussen Visserye se Waarnemingsagentskap en die Namibiese Openbare Werkersvakbond (Napwu) onderteken is nie. Die hoof uitvoerende beampte van die agentskap, ene mnr. Mungungu, word regstreeks in die petisie aangespreek. Hy moet regstreeks betrokke raak by die sake van die maatskappy en die oplossing van probleme.
Hy moet sy aanwending van buitelandse konsultante vir die oplossing van eenvoudige probleme staak en sodoende ’n einde maak aan ’n vermorsing van geld. Hy moet sy bestuurslede dissiplineer soos wat hy hul minderes kortvat. Hy moet verdraagsaam wees in onderhandelinge met die vakbond en probleme oplos voordat dit krisisomvang bereik. Mungungu het teenoor die vakbond verklaar dat hulle ’n dispuut moet verklaar, terwyl ’n vreedsame oplossing bereik kon word.
Aan sy kant was dit vrotsige oordeel. Oor die bestuurder van menslike hulpbronne word verklaar dat hy ’n swak invloed oor ander bestuurders het. Hy is gou om hom tot dissiplinêre verhore te wend terwyl dit maklik sou wees om bloot met die amptenare te onderhandel. Hy moet neutraal wees en alle personeel as gelykes behandel. Hy moet hom weerhou van ’n rol as woordvoerder van die bestuur en moet ophou om sy neus in ander departemente se sake te steek.
Die bestuurder van menslike hulpbronne ly aan ’n gebrek aan leierskap en vloek op personeel en sê reguit hy hou nie van hulle nie. Hoekom is ’n onlangse werwingsveldtog op Lüderitz gehou en nie by die hoofkantoor nie? Hoe durf dubbele strawwe personeel opgelê word – hulle kry geskrewe waarskuwings en daar word aftrekkings aan hul salarisse gedoen. Volgens die waarnemers respekteer die hoof van inligting ook nie die Arbeidswet nie. Sy het ’n kitsbesluit geneem om senior waarnemers te vergoed.
Dit is sy wat tot die oortydstryd bygedra het en meegebring het dat vissersbote eers vertraag was en toe sonder waarnemers uitgegaan het. Sy is uit voeling en sonder enige begrip vir junior amptenare. Volgens die waarnemers kan die bestuurder van operasies en finansies gerus tot die groei van die agentskap bydra. Dis hulle wat die hoof uitvoerende beampte moet inlig en, indien nodig, van hom moet verskil.
Hulle mag nie rubberstempels word en toelaat dat hul medebestuurders oor hulle storm nie. Hulle is ook nie gelukkig met die optrede van die senior waarnemer by Visserye nie. Haar aanstelling het tweespalt onder die waarnemers gebring. Dis sy wat haar nie elke dag by die kantoor aanmeld en die bystandslys onderteken nie. Sy werk net naweke, maar kry haar volle salaris.
Was haar opname in die maatskaplike voorsorgfonds vir die tydperk 27 Junie tot 13 Julie nie gegrond op valse inligting nie? Die petisie word afgesluit met ’n eis dat oortydvergoeding van die senior waarnemers reggestel moet word terwyl verhoudinge by die dag slegter word.
Die kontrak moet beëindig word wat die ontplooiing van waarnemers behels. “Anders sal ons waarnemers nie meer in naweke van haar dienste gebruik maak nie.” Die petisie is aan die vakbond en die voorsitter van die direksie van die Visserye se Waarnemersagentskap gerig.