10.03.2010 Vissermanne hoop vir groter stokviskwota
DIE Namibiese stokvisbedryf se oë is nou op die Visserye-adviesraad gerig met optimisme wat hoog vlam dat verhoogde toelaatbare vangste toegeken gaan word.
Die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, dr. Abraham Iyambo, het hom reeds ten gunste van ’n verhoogde toekenning uitgespreek.
In die stokvisbedryf met 36 houers van vangregte word die moontlikheid van hoër vangregte aan bewaringspraktyke en ’n goeie bestuurstelsel gekoppel. Optimiste in die bedryf hoop op ’n toekenning van 10 persent, maar ’n moontlikheid van net 8 persent word ook genoem. Waaroor almal dit eens is, is dat die internasionale geldkrisis en ’n verstewiging van die Namibiese dollar teenoor buitelandse geldstelsels die bedryf laat worstel.
Al manier waarop die negatiewe faktore teëgewerk kon word, was ’n seisoen met verbeterde vangste. Die stokvisbedryf is ’n werkverskaffer aan 9 000 mense. Sou ’n bykomende kwota aangekondig word, sal die bedryf tot aan die einde van die vangtydperk teen die einde van Mei volstoom kan werk.
Die Stokvisvereniging het vanjaar op 27 Januarie die moontlike verhoging van die toelaatbare stokvisvangste met dr. Iyambo bespreek. Dit het gehandel oor ’n bedryf wat die afgelope jare onder die snoeiskêr deurgeloop het.
In 2004 was die toelaatbare vangste vir stokvis nog 195 000 metrieke ton. In 2005 het die afwaartse kurwe begin toe die toelaatbare vangs 180 000 ton was. In 2006/7 was dit 130 000 ton met ’n geringe styging na 135 000 ton in 2008/9. Nou word deur belangegroepe in die bron gehoop op ’n verhoging van 10 persent wat 13 500 ton van die bestaande toelaatbare vangs sal wees. Sou die verhoging 8 persent wees, sal dit meebring dat 10 800 ton meer stokvis gevang mag word.
Die stokvisbedryf is ’n grote binne Namibiese verband. Die omset word op sowat N$1 miljard bereken van ’n bedryf wat ’n staatsbate van N$4 miljard per jaar is.
|