5.10.2009 Verwarring oor waar lyne loop
VERWARRING heers in Caprivi na beamptes van die Verkiesingskommissie aanvanklik politieke partye ingelig het dat ’n nuwe afbakening vir die Katima Mulilo landelike kiesafdeling gedoen is. Dit is egter later reggestel deur die direkteur van verkiesings, mnr. Victor Tonchi, wat op Katima Mulilo met politieke partye vergader het. Daar is ooreengekom dat die kiesafdeling se afbakening sal bly soos dit die afgelope 19 jaar is.
Die verwarring het egter tot gevolg gehad dat heelwat van die sogenaamde vrygeborenes, diegene wat na onafhanklikwording gebore is en nou stemgeregtig is, nie vir die verkiesing kon registreer nie.
Die sekretaris vir organisasie van die DTA in Caprivi, mnr. Msiwa Brilliant, het op ’n nuuskonkonferensie in Windhoek gesê die DTA is steeds in gesprek met die Verkiesingskommissie oor die aangeleentheid en hoop dat ’n manier gevind sal kan word om diegene wat weens die verwarring nie geregistreer het nie, tegemoet te kom en aan hulle nog ’n kans te bied om te registreer.
Die kiesafdelings wat volgens mnr. Brilliant geraak is, is Lisikili en Musokotwani wat al die jare deel van Katima Mulilo landelik was en glo by Kabbe en Sibbinda ingedeel is.
|