
Van die LLD-werkers het dié week raad by die kantore van die NUNW gaan soek en die sekretaris-generaal van die federasie, mnr. Evilastus Kaaronda, het hulle te woord gestaan.
’n EINDE is waarskynlik in sig vir die voortslepende onwettige staking van sowat 230 werkers van Lev Leviev Diamond and Polishing Company (LLD) met die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) wat nou ingegryp en ’n hand van versoening uitgereik het. Dié wending kom kort nadat die LLD-bestuur vir President Hifikepunye Pohamba by Staatshuis oor die onwettige staking ingelig het en waartydens senior staatsamptenare die blaam vir die toedrag van sake voor die deur van die Mynwerkersunie (MUN) en Swapo se Jeugliga gelê is.
Dit was veral die sekretaris-generaal van die MUN, mnr. Joseph Hengari, wat as die sondebok uitgemaak is. “Ek is daarvan oortuig dat die probleme met die staking binnekort opgelos sal word en dat die werkers weer voor die einde van hierdie maand in diens van die maatskappy geneem sal word. “Ons is nou net besig om ’n dringende vergadering met die bestuur van LLD te belê wat moontlik nog vandeesweek kan plaasvind,” het die NUNW se sekretaris-generaal, mnr. Evilastus Kaaronda, aan Republikein gesê.
Werknemers het op 19 Junie begin staak en verskeie redes daarvoor aangevoer wat uiteindelik tot die afdanking van die personeellede gelei het. Mnr. Kaaronda het bevestig dat hy skriftelik ’n versoek aan die besturende direkteur van die maatskappy, mnr. Kombadayedu Kapwanga, gerig het om amnestie aan die stakende werkers te verleen en hulle weer in diens te neem.
Die NUNW sal op sy beurt dan onderneem om vakbondlede op te lei ten opsigte van die maatskappy se beleid, die erkenningsooreenkoms tussen die partye, die Arbeidswet en relevante kwessies. “Ons het ’n brief van LLD ontvang waarin die maatskappy duidelikheid soek oor sekere van die aspekte wat die NUNW in sy versoek van amnestie aangespreek het. Antwoorde hierop sal so gou as moontlik teruggestuur word sodat die proses van onderhandeling vinnig kan begin,” sê mnr. Kaaronda.
Die NUNW vra voorts dat die werknemers indien hulle terugkeer na die maatskappy nie aan bykomende kontraktuele diensvoorwaardes onderwerp moet word nie en dat hulle nie geviktimiseer sal word nie, veral die lede van MUN se tak by LLD. Volgens mnr. Kaaronda was ’n gebrek aan kommunikasie en misverstande tussen die werkers en die LLD-bestuur die oorsake wat tot die afdanking van die stakers gelei het. “Sodra die groenlig vir die vergadering gegee word, sal ons die president van die MUN, mnr. Andreas Eiseb, as deel van die NUNW se afvaardiging insluit,” het mnr. Kaaronda gesê.