Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Motor 14 November

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

11.11.08

Wilddiewe se turf sit

14.11.08

Held van Hochfeld-ongeluk

10.11.08

Rekordprys vir skaapram

12.11.08

Oranjemund se skatskip

13.11.08

Hof sny Ripperspoor

12.11.08

Omkoopgeld het twee in sop

7.10.2008

Verraadverhoor hervat ná dispuut

DIE kern van die betaalgeskil tussen die direktoraat: Regshulp en vyf Zambiese en Zimbabwiese prokureurs wat vir die verdediging optree in die Caprivi-hoogverraadverhoor, is teen die naweek suksesvol bygelê. Verrigtinge in hierdie marathongeding kon dus gister ná ’n week se pouse soos normaal hervat.

Mnr. Greyson Nyoni het Regter Elton Hoff ingelig dat die saak met die permanente sekretaris van Justisie en die direkteur van regshulp uitgeklaar is. Hy het die hof egter ingelig dat hy en sy kollegas ook graag die Minister van Justisie wil spreek.

Mnr. Nyoni was uiters dankbaar teenoor Regter Hoff dat hy hulle die nodige tyd gegun het om ’n oplossing vir die twis te vind. Hy wou by verdere navraag nie enige nadere besonderhede gee oor die aard van die geskil en die skikking wat bereik is nie. Mnr. Nyoni het nietemin ontken dat hy en kollegas steeds net vae beloftes het dat hul lot aangespreek sal word. Volgens hom is daar beslis iets op papier.

Luidens die direkteur van Regshulp, mnr. Vero Mbahuruua, is ooreengekom dat die buitelandse prokureurs voortaan presies dieselfde betaling as hul vier Namibiese kollegas sal ontvang. Net “geringe kwessies” moet volgens mnr. Nyoni nog met die Minister uitgeklaar word.

Intussen het dit gister geblyk dat die direktoraat: Regshulp sommige van die plaaslike prokureurs vir die verdediging in die verhoor drie maande laas betaal het. Mnr. Mbahuruua het egter ontken dat sy direktoraat sonder rede sloer om rekeninge te vereffen. “Normaalweg betaal ons binne 30 dae,” het hy verseker. As daar onduidelikhede met ’n rekening is, moet sulke probleme egter eers uitgestryk word.

Wanneer die beperkte nasionale begroting vir regshulp uitgeput raak, moet daar volgens mnr. Mbahuruua ook eers bykomende kontant uit die staatskas aangevra word. Hy het benadruk dat alle betaalklagte in beginsel so gou moontlik hanteer word.

Die verhoor het gister hervat met die kruisondervraging van mnr. Herman Zeelie, die oudpolisieman wat later in beheer van die bewys stukke teen die 117 beskuldigdes geplaas is.

Hy is onder meer genadeloos ondervra deur mnr. Jorge Neves, teenoor wie hy moes toegee dat polisieregisters waarin dokumentêre bewysstukke oor die bekende oudparlementariër, mnr. Geoffrey Mwilima, en die uitvoerende regisseur van die NBC op Katima Mulilo, mnr. Bernard Mucheka, se beweerde betrokkenheid by die 1999-rebellie in die Caprivi aangestip is, nie spesifieke inligting bevat oor presies waar hierdie vermeende verdoemende getuienis glo gevind is nie.

Mnr. Neves het benadruk dat geen wettige soekbevele blykbaar uitgereik is nie en dat familielede ook nie teenwoordig was om te sien wat glo in die twee beskuldigdes se wonings ontdek is nie. Mnr. Zeelie het erken dat van die inskrywings in die betrokke bewysregister dalk eers na de maal gemaak is.