Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

15.03.2010

Verraad-uitspraak sny diep

© Dani Booysen
Beskuldigdes in die Caprivi-hoogverraadverhoor gesels met mnre. Jorge Neves en Hennie Krüger, twee van die agt prokureurs vir die verdediging, na ’n sitting van die spesiale Hoërhof by Windhoek se Sentrale Gevangenis.

DIE Hoërhof se verwerping vandeesmaand van 27 moontlike skuldbekentenisse wat die staat as getuienis in die Caprivi-hoogverraad aangebied het, kan volgens ’n regsgeleerde verreikende gevolge vir die sukses van die saak hê. Die hof se voet-dwars-sit-beslissing kan ook oorspoel na verhore oor stringe siviele aanrandingseise teen die polisie en weermag wat nog afgehandel moet word.

“Dit is ’n baie, baie belangrike en betekenisvolle standpunt wat die hof ingeneem het,” het die regsgeleerde benadruk. Behalwe dat Regter Elton Hoff in weerwil van die staat se protes ’n enkele polisieman se getuienis aanvaar het dat verdagtes inderdaad ernstig aangerand is in die nasleep van 2 Augustus 1999 se gewapende afstigtingspoging op en rondom Katima Mulilo, het elke landdros wat betrokke was by die afneem van die bekentenisse kwaai deurgeloop.

Volgens regslui is Regter Hoff se uitspraak nie net ’n vingerwysing nie, maar as ’n nuwe regsgesag van meer as 80 bladsye stel dit opnuut belangrike maatstawwe vir die afneem van bekentenisse waarop ondersoekbeamptes en die regsarm van die staat landwyd ag sal moet slaan. Die toelaatbaarheid van beweerde skuldbekentenisse is keer op keer ’n hekkie in verskeie prominente kriminele verhore in die land.

Regter Elton Hoff
Die Mukena-bekentenis
 
Die sleuteltoets vir die aanvaarding van enige bekentenis, is dat die verdagte dit sonder enige onbehoorlike invloed, hetsy deur geweld, dreigemente of ongeoorloofde beloftes van byvoorbeeld kwytskelding of vergoeding, vry en vrywillig afgelê het. ’n Verhoor binne ’n verhoor bepaal die toelaatbaarheid van sulke bewysstukke en die bewyslas berus by die staat om aantygings van ongerymdhede te weerlê.

In die verraadverhoor kon die staat volgens Regter Hoff nie bo redelike twyfel bewys dat enige van die bekentenisse vrywillig bekom is nie. Hy beklemtoon vroeg in sy beslissing reeds dat die hof verplig is om fundamentele regte en vryhede te beskerm, soos deur die Namibiese grondwet gewaarborg. Hoofinsp. Richard Mukena het onder meer vir die staat getuig oor beweerde bekentenisse wat teen beskuldigdes een, twee en drie in die verraadsaak, naamlik Calvin Malumo, Chika Adour Mutalife en Joseph Kamwi, ingedien is.

Dieselfde groep binneverhore het ook gehandel oor die beweerde skuldbekentenisse van Sylvester Ngalaule (beskuldigde nommer 8 op die lys van 116), Kingsley Musheba (beskuldigde nommer 9), Joseph Mufuhi (beskuldigde nommer 29) en Rodwell Sihela (beskuldigde nommer 30) – almal dus manne hoog in die staat se visiere.

Hoofinsp. Mukena, destyds ’n adjudantoffisier in bevel van die polisie se aanklagkantoor op Katima Mulilo, was op 1 en 2 Junie 2009 in die getuiebank. In sy hoofgetuienis het hy aanvanklik voet by stuk gehou dat verdagtes behoorlik by die selle ingeboek is, dat hy absoluut geen teken van geweld gesien het nie en dat verdagtes “vreedsaam en stil” hul volle samewerking gegee het.

“Ek het nooit gesien dat iemand aangerand word nie,” het hy aan die begin van sy kruisondervraging ook nog teenoor mnr. Hennie Krüger volgehou. “…Toe ek daar was, was daar geen aanrandings nie,” het die hofrekord sy oorspronklike weergawe opgeteken.

“Goed, hy (Malumo) is geklap,” sou hy egter later toegee. Die hoofinspekteur het hierop ook erken dat Malumo na die bos geneem is waar hy verder aangerand is; dat hy hier aan ’n boom vasgebind is en dat skote naby die beskuldigde se kop afgetrek is terwyl hy gedreig is om liewers alles na te praat wat die polisie aan hom sê.

Hy het ook erken dat Malumo en twee beskuldigdes wat saam hom aangekeer is, se name en hul beserings nie in die selregister aangeteken is nie, dat hulle nie van hul regte ingelig is nie en in gevalle ondervra is sonder dat dié plig nagekom is.

Hoofinsp. Mukena het teenoor mnr. Victor Kachaka erken dat ook sy kliënt, mnr. Rodwell Sihela, aangerand is. Mutalife is op 10 Augustus 1999 saam met die twee in boeie geslaan. Regter Hoff het bevind dat die staat nie hierdie toegewings enigsins ondergrawe het met getuienis tot die teendeel nie en dat dit daarom moet staan.
Vingerwysing vir landdroste
 
Enige skuldbekentenis wat deur ’n lid van die polisie bekom is, moet daarna ook voor ’n landdros op skrif geplaas word. Regter Hoff het landdroste Cassie Carstens, mee. Rachel Sakala, Alexis Pietersen-Diergaardt, Naomi Shivute (deesdae ’n Regter) en drie ander landdroste wat nie getuig het nie, deur die bank weens pligsversuim kwaai geroskam.

Volgens Regter Hoff het landdroste in 17 gevalle hul verantwoordelikheid versaak om verdere ondersoek in te stel nadat beskuldigdes aan hulle gesê het dat hulle aangerand is, of selfs littekens gewys het om die aantygings te staaf. Die versuim het volgens die Hoërhof veroorsaak dat gebrekkige prosedure in die “poortkamers” voor die “herehuis” (die ope hof) die betroubaarheid van die bekentenisse ernstig aangetas het.

Malumo het byvoorbeeld aan die landdros gesê dat hy nie enige beserings het nie, maar dat hy wel geskop, met die vuiste geslaan en geklap is. Hy het ook gesê dat hy geforseer is om die inhoud van sy eerste eedverklarings te onderteken. “Hulle het gesê hulle sou my skiet,” het hy van die polisie gesê. Al het Malumo aan die landdros gesê dat hy nie gedwing is om ’n nuwe verklaring af te lê nie, moes “opvallende spanning en weerspreking” in sy antwoorde volgens Regter Hoff ’n klokhelder alarm laat afgaan het.

“…Dit is moeilik om te peil hoe dit vir die landdros kon lyk dat die beskuldigde ‘vry en regverdig ’n verklaring wou aflê,’” lees die uitspraak. “Ek was geforseer terwyl hulle gewapen was…” het van Sihela se antwoorde in September 1999 aan dieselfde landdros gelui. Mutalife het byna presies dieselfde gesê. Sihela het ’n litteken aan sy linkervoorkop gehad, terwyl die landdros op die pro forma vir die afneem van bekentenisse ’n swart merk op Mufuhi se ribbes aangeteken het waar hy glo geskop is.

“Hulle (die polisie) het nie my verklaring afgeneem soos ek vir hulle gesê het nie,” het die beskuldigde bygevoeg. “…’n Landdros wat ’n skuldbekentenis afneem, tree nie soos ’n bandopnemer op nie,” het Regter Hoff benadruk, “maar het ’n spesifieke plig voor ’n verklaring afgeneem word, en dit is om tevrede te wees (sover omstandighede dit toelaat) dat ’n getuie sy of haar verklaring vry en vrywillig aflê. In die geval (van Mufuhi en verskeie ander) het die landdros versuim om dit te doen.”

Die hof het benadruk dat ’n persoon se versekering dat nie aan hom voorgesê is of beloftes gemaak is nie, nie ’n landdros kwytskeld van die plig om ondersoek in te stel na enige opmerking waaroor hy of sy onraad behoort te merk nie. Selfs as die polisie twee dae geneem het om ’n beskuldigde se bekentenis af te neem, moet ’n landdros volgens Regter Hoff versigtig wees.

Kingsley Musheba (beskuldigde nommer. 9), wat kort na die opstand in hegtenis geneem is, het aan die landdros gesê dat hy tydens ’n loesing met ’n sambok beserings opgedoen het.

Hy is na bewering ook herhaaldelik geskop. Hy het tydens die bekentenis ’n verband om sy ribbes gehad, terwyl die landdros ook wonde en littekens aan sy rug, regterarm, kop en neus opgeteken het. “In die geval,” lui Regter Hoff se oordeel, “het die landdros nie net aantygings van aanranding gehoor nie, maar self die gevolge van daardie beweerde aanrandings gesien.

“Dit is na my mening hoogs onwaarskynlik dat die landdros onder die indruk kon wees dat die beskuldigde vry en regverdig ’n verklaring wou aflê.” Een landdros was selfs aangespreek dat hy so laks kon wees om die woord “sambok” verkeerd te spel.

Tobias Kananga (beskuldigde nommer 20) het op eie getuienis aan die landdros gesê dat die polisiemanne wat buite vir hom gewag het, gedreig het dat hulle hom sal doodmaak as hy ’n “fout” in sy bekentenis maak.
Die reg op ’n prokureur
 
Regter Hoff plaas reg aan die begin van sy uitspraak groot nadruk op die reg om ’n prokureur te raadpleeg en om tydens voorverhoorprosedures oor die reg ingelig te word as ’n kerneienskap van ’n regverdige verhoor. Hy het die staat se argument verwerp dat ’n beskuldigde sulke versuim formeel as verdediging moet aanbied.

In die geval van O’Brien Sinkolela (beskuldigde nommer 28) het die landdros volgens Regter Hoff hom soos in etlike ander voorvalle, wel ingelig oor sy reg op regsverteenwoordiging, maar nie gesê dat hy daarop kan aandring om eers met ’n prokureur – wat die staat sal voorsien – te gesels nie.

“Al is die reg op regshulp nie ’n fundamentele reg volgens die bepalings van die Namibiese grondwet nie,” het Regter Hoff bevind, “hoe anders sal ’n onverteenwoordigde lekepersoon in ’n posisie wees om sy reg op regsverteenwoordiging te benut as hierdie geregtigheid van hom of haar weerhou word?”

Volgens Regter Hoff is iemand slegter daaraan toe in die hof as hy nie in die landdros se kantoor behoorlik oor sy reg op regshulp ingelig word nie. Hy het in verskeie gevalle benadruk dat hierdie reg aan mense met ’n gebrekkige opvoeding selfs beter verduidelik moet word om hulle in staat te stel om ’n ingeligte besluit te neem.

“Regsbeamptes word aangemoedig om die ‘ekstra myl’ te loop waar beskuldigdes ernstige klagte in die gesig staar, om hulle aan te moedig om regshulp te kies eerder as om hulself te verdedig,” het hy uit een bron aangehaal. Regter Hoff het daarom me. Sakala se verweer verwerp dat sy nie ’n “regsadviseur” was nie en dus nie sulke raad kon gee nie.

Briton Lielezo (beskuldigde nommer 31) het in September 1999 byvoorbeeld aan die landdros gesê: “Ek het ’n prokureur nodig, maar ek het nie geld nie. Jý kan voortgaan sonder ’n prokureur.” “Hierdie,” het Regter Hoff bevind, “was ’n ideale geleentheid vir die landdros om die beskuldigde van sy reg op regshulp in te lig. Die landdros het versuim om dit te doen.”

Hierdie “fatale” nalatigheid het volgens Regter Hoff 20 van die 27 bekentenisse gekelder. In die geval van John Masake (beskuldigde nommer 10) was volgens die Hoërhof ’n bykomende ongerymdheid deurdat die beskuldigde op 22 Januarie 2001 in die hof deur ’n landdros gevra is of hy nie eers wil pleit voor hy om regshulp aansoek doen nie. Masake het hierop skuldig aan hoogverraad gepleit.
Onverteenwoordigde beskuldigdes
 
In die geval van 13 beweerde bekentenisse deur beskuldigdes sonder prokureurs, het Regter Hoff die staat se argument verwerp dat die inhoud van die verklarings voorlopig aanvaar kan word omdat geen saak teen die vrywilligheid daarvan uitgemaak is nie.

Hierdie persone, het die hof benadruk, verdien dieselfde beskerming as enige beskuldigde wat ’n prokureur het en later onskuldig bevind kan word. In die geval van George Liseho (beskuldigde nommer 15) en Richwell Matengu (beskuldigde nommer 105) het Regter Hoff bevind dat hul eedverklarings onderskeidelik ’n ontkenning en ’n verontskuldiging is. Die staat het nog een beweerde bekentenis in sy arsenaal, wat later sal dien.

Die inhoud van ’n bekentenis kan net teen iemand gebruik word wat dit afgelê het en nie teen enige ander persoon wat in so ’n eedverklaring genoem word nie. Die hof kan ’n voorlopige uitspraak oor die toelaatbaarheid al dan nie van ’n bekentenis, later heroorweeg as nuwe getuienis dit regverdig.

• Die Nasionale Vereniging vir Menseregte (NSHR) sê in ’n nuusvrystelling dit was nie in die minste verbaas deur die uitspraak nie. Die vereniging het die Hoofregter reeds verskeie jare gelede gevra om ’n afsonderlike verhoor te reël oor die gebruik van geweld en dwang teen beskuldigdes om te verseker dat die hoofverhoor regverdig is.

Die NSHR sê steeds dat die staat klaaglik misluk het in sy verantwoordelikheid om oortreders in die polisie en gewapende magte van meet af aan te vervolg. Die staat se teenargument was nog altyd dat sodanige vervolgings eers kan plaasvind sodra die verraadverhoor afgehandel is.