
Me. Barbara Snyders
’n VRAAGTEKEN oor die wyse waarop grensbeheer op Namibiese grense toegepas word, het ontstaan ná dit aan die lig gekom het dat onwettige boetes aan invoerders van landbouverwante produkte deur die bewakers van die grens uitgereik word.
Die boetes wat net as drakonies beskryf kan word, is nie in die wet vervat of in die staatskoerant afgekondig nie. Die geld gaan ook nie na die staatskas nie, maar word as vergoeding aan die Suid-Afrikaanse moniteringsagent, Agri Inspec, betaal wie se hoofkantoor in Pretoria is.
“Die boetes moet by ons betaal word, maar ons betaal dit direk oor na Agri Inspec. Dit dien as vergoeding vir die diens wat hulle vir ons op die grense lewer om smokkelhandel te voorkom,” sê me. Barbara Snyders, finansiële bestuurder van die Namibiese Akkerbouraad.
Agri Inspec is in Augustus 2008 deur die Akkerbouraad, Namibia Dairies en Namib Meulens as moniteringsagent van oorgrenshandel in hul produkte aangestel. Volgens die kontrak wat hulle onderteken het, betaal die Akkerbouraad meer as N$60 000 per maand vir die diens wat Agri Inspec op die grensposte lewer.
Benewens hierdie maandelikse bedrag, moet in transito vervoerders van mielie- en koringmeel volgens die kontrak ook ’n inspekteringsfooi van N$500 aan Agri Inspec betaal vir elke trok wat deur die agent nagegaan word. Vervoerders van akkerbouprodukte, mielies, koring en mahangoprodukte en alle koeltrokke moet N$350 vir hul inspeksies betaal.
Sou vervoerders nie aan die inspekteringsagent se vereistes voldoen nie, word ’n boete van N$100 per ton vrag gehef. Die boetes kom in werking sou die vervoerder nie vir Agri Inspec in kennis stel van hul beplande tyd van aankoms op die grens nie, die in transito-permit verval het, die gewig van die vrag verkeerd verklaar is of die vervoerder nie die permitvoorwaardes nakom nie. Die vervoerder betaal ook dieselfde boete sou hy die verkeerde of onvolledige dokumentasie aan die inspekteerder voorlê.
Benewens dit word die vervoerder ook vir ’n uurlikse inspeksiefooi van N$40/uur verantwoordelik gehou en moet hy vir Agri Inspec vergoed vir die kilometerafstand
(N$3.75/km) wat die inspekteerder moet aflê ondanks die feit dat hulle op die grens gesetel is.
Dieselfde boetes geld ook nou vir Namibiese invoerders en is volgens me. Snyders “onlangs” in werking gestel. Sy moes die inspekteer by die grenspos skakel om uit te vind waarom en van wanneer plaaslike invoerders ook onderhewig is aan die boetestelsel.
“Die hoof uitvoerende beampte, die inspekteerder en ’n verteenwoordiger van Agri Inspec het die boetes (op plaaslike invoerders) goedgekeur en in werking gestel,” het sy gesê.
Die Akkerboubedryfswet 20 van 1992 maak nie voorsiening vir die hef van boetes nie en bepaal dat ’n oortreder gepenaliseer moet word met die uitreik van invoerpermitte sou hy die wet oortree. ’n Boete van N$3 000 of ses maande tronkstraf is wel in die wet ingebou sou ’n inspekteer onder meer verhoed word om sy werk te doen of iemand hom as ’n inspekteer voordoen.
“Die geld word direk aan Agri Inspec betaal sodat ons dit nie in die staatskoerant hoef aan te kondig nie,” het me. Snyders gesê.
Sy het bevestig dat geen vasgestelde appèlprosedure teen ’n boete in plek is nie. “Iemand wat ’n probleem met die boete het, kan dit met die ‘CEO’, die voorsitter of die permanente sekretaris (van Landbou) opneem.” Dié prosedure is egter volgens haar nêrens op skrif nie.
Volgens me. Snyders is die boetes nie onderhewig aan ’n spertyd vir betaling nie en word permitte aan invoerders geweier, sou die uitstaande boetes volgens haar te veel word.