2.09.2009 Verkiesingsdatums gister aangekondig
VERKIESINGS vir lede van die Nasionale Vergadering en die President sal vanjaar op 27 en 28 November plaasvind. Die aankondiging is gister deur die adjunkdirekteur: verkiesingoperasies van die Verkiesingskommissie, mnr. Theo Mujoro, gemaak.
Bykomende registrasie van kiesers sal vanaf 17 tot 30 September plaasvind. Die laaste dag vir die nominasie van politieke partye en onafhanklike kandidate en vir die indiening van partylyste met die oog op die komende verkiesing is 19 Oktober.
Namibiërs wat hulle in die buiteland bevind en seevarende personeel sal op 13 November die geleentheid kry om hul stemme uit te bring. Vanjaar sal met die tel van stemme by elke stempunt begin word direk na die stembusse op die tweede stemdag sluit. Dit volg na wysigings aan die kieswet wat daarop gemik is om die proses meer deursigtig te maak.
Volgens mnr. Mujoro is die kommissie tans besig met die werwing en opleiding van toesighouers en registrasiebeamptes in die verskillende kiesafdelings. Die kommissie hoop om meer as 3 500 registrasiebeamptes landwyd te ontplooi om met die bykomende registrasieproses behulpsaam te wees.
Mnr. Mujoro wys daarop dat die verkiesing besonder is omdat dit die eerste keer sal wees wat die sogenaamde vrygeborenes, diegene wat na onafhanklikwording gebore is, die kans sal kry om te stem. Dit is ook vanjaar 20 jaar sedert die geskiedkundige 1989-verkiesings, die eerste demokratiese verkiesings wat in die land gehou is.
Met dit voor oë sal die Verkiesingskommissie ‘n omvattende veldtog van stapel stuur om veral jong kiesers bewus te maak van hul regte en hulle in te lig oor hoe om te registreer en te stem. Tans is nagenoeg 1,1 miljoen Namibiërs as kiesers geregistreer.
|