4.02.2010 VerkiesingschaosECN maak nog skande
Selfs die naam van die oorlede streekraadslid wie se amp oor minder as drie weke met ’n tussenverkiesing gevul moet word, mnr. Theofelus Eiseb, pryk nog op die voorlopige kiesersrol vir die Okahandja-kiesafdeling.
Dieselfte chaos op die nasionale kiesersrol voor die Novemberverkiesings, bly oogluikend ’n meulsteen om die nek van die Verkiesingskommissie (ECN). Die Rally for Democracy and Progress (RDP) het gister die sluier gelig oor net meer as 500 “ongerymdhede en onwettighede” wat die opposisieparty reeds op die voorlopige kiesersrol vir die verkiesing gevind het.
Die slag vir uitstel om die volledige kiesersrol beter onder die vergrootplaas te plaas, is nog nie finaal gelewer nie. Hoewel die landdros op Okahandja, me. Tuvoye Nuule, die opposisie gister ingelig het dat sy nie die jurisdiksie het om die spertyd te verleng wat Vrydag uitgeloop het nie, is die RDP volgens mnr. Libolly Haufiku nog besig om sy opsies te oorweeg. Die landdros het gesê die ECN moet ’n besluit neem.
Die RDP het Vrydag 317 besware ingedien, maar volgens mnr. Nghiningiluandubo Kashume, adjunksekretaris vir inligting en publisiteit, is intussen nog 184 foute gekry.
In totaal is daar uit die 14 279 name op die voorlopige kiesersrol een minderjarige (wat eers in Julie 18 sal word), 182 dubbele registrasies, 21 triplikaat-inskrywings, 252 dooies – waarvan party al afgesterwe het voor die vorige algemene verkiesing in 2004, tien name wat dubbeld verskyn met identiteitsdokumente en beëdigde verklarings as bewyse van stemreg, 27 persone wie se geslag verkeerd aangegee is en die name van agt mense wat eintlik in Windhoek woon.
Die opposisie het vroeg al gekla dat stemvee glo na Okahandja aangery is om Swapo se hand te sterk. Swapo het geen besware teen die kiesersrol gemaak nie. “Ons is nie bekommerd oor daardie dinge (foute op die kie- sersrol) nie,” het mnr. Victor Tonchi, voorsitter van die ECN, gister gesê.
“Daar is ’n tydraamwerk,” was sy kommentaar oor die versoek vir uitstel. Volgens mnr. Kashume moet die ECN na die beste, eerder as halwe werk streef. Hy sien geen rede hoekom die rol nie perfek kon wees nie.
Vir die RDP is die toestand van die kiesersrol ’n dwarsklap vir eerlikheid en openheid, en verteenwoordig die bestaande dossier van klagte wat ’n foutmarge van 3,5 persent verteenwoordig, ’n werklike gevaar vir die geloofwaardigheid van die verkiesing.
Volgens mnr. Kashume het die RDP eintlik maar net twee dae gehad om die rol te fynkam en het die ECN die taak nog verder bemoeilik deur te weier om ’n elektroniese afskrif van die rol vry te stel. Mnr. Kashume het ten sterkste kapsie gemaak teen die hernude gebruik van ’n beweerde onwettige verifiëringsentrum, wat stemme sal oortel nadat uitslae reeds by stempunte gekontroleer is.
Hierdie is volgens hom ’n voorbeeld van die ECN se voortgesette, blatante minagting van die wet. Die polisie was gister reeds besig om kennisgewings by diegene af te lewer wie se stemreg in gedrang is. Hulle het 15 dae om hul saak te stel.
|