
Mnr. Sacky Shanghala
NÁ verskeie omstrede verkiesings wat telkens met hofsake deur opposisiepartye geëindig het en opmerkings deur Regter-president Petrus Damaseb dat dringend weer na die verkiesingswet gekyk moes word, is ’n omvattende ondersoek na hierdie wet begin.
Volgens die voorsitter van die Kommissie vir Wetlike Hervorming en Ontwikkeling (LRDC), mnr. Sacky Shanghala, het die kommissie in samewerking met die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) met die ondersteuning van die Namibiese Instituut vir Demokrasie (NID) ’n kieswethervormingsprojek aangepak.
Kragtens die Wet op Regshervorming en Ontwikkeling van 1991 word wyd met belanghebbendes, insluitende opposisiepartye en die publiek, beraadslaag om die beste moontlike bydraes te kry. Hieruit moet ’n konsepverslag met aanbevelings vir hervorming van die Kieswet opgestel word. Dit sal ook die grondslag vir die opstel van ’n nuwe kieswet vorm.
“Die eerste stap wat die LRDC gedoen het, was om inligting van geregistreerde politieke partye te kry,” het Shangala op ’n mediakonferensie gister in die hoofstad gesê. Die proses het in Augustus verlede jaar plaasgevind.
“Politieke partye is toe genooi om geskrewe voorstelle oor verkiesingshervorming in ’n wyer en nouer konteks in te handig. Daarna sal die LRDC met elke politieke party vergader.”
Voorts sal openbare vergaderings gehou word waar die publiek sy bydraes kan lewer.
“Die publiek word genooi om enige van die openbare verhore wat landwyd gehou word, by te woon en hul insette te gee,” het Shangala gesê.
Die openbare verhore sal om 09:00 begin en tot 16:00 duur. Die verloop van verrigtinge sal onderhewig wees aan reëls en prosedures wat deur die Kommissie op Regshervorming en Ontwikkeling bepaal word.
Daarna sal ’n verslag, gepaardgaande met ’n konsepverslag met aanbevelings vir hervorming van die Kieswet aan die Minister van Justisie oorhandig word. Shangala het bevestig dat die proses waarskynlik in September sal plaasvind.
Diegene wat meer inligting wil hê, kan met sekretaris Tousy Namiseb by 081 129 6343 of tnamiseb@moj. gov.na of met mnr. Theunis Keulder, uitvoerende direkteur van NID by 081 124 1434 of tkeulder@iway.na in verbinding tree.