4.01.2012 Verkiesingshervormings kom
NÁ verskeie omstrede verkiesings wat telkens met hofsake deur opposisiepartye geëindig het en opmerkings deur Regterpresident Petrus Damaseb dat dringend weer na die Verkiesingswet gekyk moes word, is ’n omvattende ondersoek na hierdie wet begin.
Volgens ’n verklaring van die voorsitter van die Kommissie vir Wetlike Hervorming en Ontwikkeling, mnr. Sacky Shanghala, het die kommissie in samewerking met die Verkiesingskommissie van Namibië met die ondersteuning van die Namibiese Instituut vir Demokrasie (NID) ’n kieswet hervormingsprojek aangepak.
Ingevolge die Wet op Regshervorming en Ontwikkeling van 1991 word wyd met belanghebbendes, insluitende opposisiepartye en die publiek beraadslaag om die beste moontlike insette te kry. Hieruit moet ’n konsepverslag spruit met aanbevelings vir hervorming van die Kieswet. Dit sal ook die grondslag vir die opstel van ’n nuwe kieswet vorm.
Die publiek word genooi om enige van die openbare verhore wat landwyd gehou word, by te woon en hul insette te gee.
Die openbare verhore sal om 09:00 begin en tot 16:00 duur. Die verloop van verrigtinge sal onderhewig wees aan reëls en prosedures wat deur die Kommissie op Regshervorming en Ontwikkeling bepaal word.
Belangstellendes wat meer inligting wil hê, kan met die sekretaris van die kommissie, mnr. Tousy Namiseb by 081 129 6343 of tnamiseb@moj.gov.na of met mnr. Theunis Keulder, uitvoerende direkteur van NID by 081 124 1434 of tkeulder@iway.na in verbinding tree.
|