6.12.2010 RDP aanvaar uitslag ondanks klagtes
ONDANKS ’n ellelange lys besware het die leierskap van die Rally for Democracy and Progress besluit om die uitslag van die mees onlangse streek- en plaaslike owerheidsverkiesings te aanvaar.
Volgens mnr. Libolly Haufiku, die RDP se administratiewe hoof, kan die party geen vertroue in die Verkiesingskommissie van die land plaas nie. Die liggaam het alle geloofwaardigheid verloor en is inderdaad ’n effektiewe dryfveer in die masjinerie van die regerende party.
“Lede van die party het tydens die verkiesing so ver gegaan as om klagte by die polisie op Outjo aanhangig te maak nadat ontdek is dat stemme met so min as N$150 by kiesers gekoop is.
Die bedrog is veral in die Kunene-streek op Outjo en Kamanjab, die hele Caprivi-streek, sekere dele van die Ohangwena-streek, op Mariental in die Hardap-streek en gedeeltes van die Kavango-streek gepleeg.”
Mnr. Haufiku het daarop gewys dat moontlike klagte in die verband op ander plekke in die land by die polisie aanhangig gemaak kan word.
Benewens die klagte van stemkopery voer die RDP aan dat die die verkiesing nie vry en regverdig was nie. Die aanbieding van die verkiesing voldoen nie aan die minimum internasionale standaarde nie.
In ’n verklaring voer die party voorts aan dat die kiesersrol so foutief was dat dit die geleentheid geskep het om gemanipuleer te word. Dit het na vore gekom toe verskeie mense in hegtenis geneem is toe hulle meer as een keer wou stem.
’n Gebrek aan rekenaartoerusting het veroorsaak dat die kiesersrol met die hand geadministreer moes word. In sekere gevalle het mense gestem sonder dat ’n kiesersrol by sekere stembusse beskikbaar was. In die verklaring voer die RDP aan dat Angolese in besit van Namibiese kieskaarte toegelaat is om te stem.
Inwoners van die Omusati-streek is volgens die verklaring na ander dele van die land geneem om daar ook te stem. Die bedrog is onder die dekmantel van die heruitreiking van verlore kieskaarte gepleeg. Die bedrog het enkele dae voor die aanvang van die jongste rondte verkiesings plaasgevind.
Ingevolge die verklaring het die polisie en stembusamptenare agente van die RDP so erg geïntimideer dat hulle nie in die stemlokale kon slaap of van telprosesse kon bywoon nie.
Voorts het van die resultate wat by sekere stemlokale bekend gemaak is nie ooreengestem met resultate wat by verifiëringsentrums verskaf is nie. Hierbenewens is die getal stemme wat onder spesiale omstandighede uitgebring is nie aan ’n openbare telproses onderwerp nie.
Kragonderbrekings in die vier O-streke in die verre noordweste van die land, die Kavango- en die Otjozondjupa-streek kort na die stemlokale Saterdag gesluit is, het ook twyfel oor die finale uitslag van die verkiesing gebring.
Mnr. Haufiku het genoem dat die party nie ’n nuwe hofsaak oorweeg nie. Hy was van mening dat nog ’n aansoek geen doel sou dien nie omdat die Hoërhof nog nie so ver kon kom om ’n bevinding in die mees onlangse eis bekend te maak nie.
“Wat is die nut van nog ’n hofsaak? Dit duur eenvoudig te lank." In die verklaring bedank die party sy agente, ondersteuners en simpatiseerders vir hul moeite om te verseker dat die RDP een setel op ’n streeksraad en 48 setels in plaaslike owerhede kon verower.
|