
Mnr. Libolly Haufiku
DIE unieke werklikhede van Oranjemund en registrasiebepalings in die kieswet het voornemende kiesers in die dorp se plaaslike owerheidsverkiesing met hul hande in die hare gelaat.
Die wet bepaal dat net munisipale en telefoonrekeninge as bewys gebruik kan word om te bewys dat ’n persoon vir meer as twaalf maande in ’n gegewe kiesafdeling woonagtig is.
Oranjemunders het egter weens die feit dat hul water en elektrisiteit gratis deur die myn verskaf word, nie munisipale rekeninge nie en talle inwoners het ook nie vaste telefoonlyne in hul huise nie.
“Diegene wat nie hieroor beskik nie, kan ’n inwoner wat reeds geregistreer is, vra om vir jou in te staan en te sê dat hulle jou ken en weet dat jy vir meer as twaalf maande op die dorp woonagtig is,” het mnr. Berendt Boph, verteenwoordiger van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) wat die registrasieproses op die dorp fasiliteer, gister gesê.
“Die wet vereis hierdie bewyse. Hoewel die situasie op die dorp uniek is, kan die registrasievereistes nie verander nie. Op my vlak moet ek net die wet toepas,” het hy gesê.
Dit het egter ook probleme geskep met klagtes deur voornemende kiesers dat ’n “prominente persoon” vir ’n hele groep mense ingestaan het.
“Ons het dieselfde klagtes ontvang,” het mnr. Libolly Haufiku van die Rally for Democracy and Progress (RDP), wat op die dorp is om oor die registrasieproses toesig te hou, gesê.
“Ons het dit reeds met die ECN opgeneem en het van die probleme opgelos,” het hy bevestig.
“Ons het klagtes oor ’n spesifieke party ontvang. Net een party het gekla oor mense wat vir ander instaan en die aantal verklarings wat hulle aflê,” het Boph bevestig. Net Swapo en die RDP het kandidate vir die verkiesing voorgestel.
Boph het ook gesê van die probleme kon tydens die vergadering met die RDP opgelos word, maar hy het ontken dat die “prominente persoon”, glo ’n raadslid vir die Oranjemund kiesafdeling, vir groot groepe mense by die registrasiepunte ingestaan het.
Haufiku het gesê hulle het daarin geslaag om met Telecom ’n ooreenkoms aan te gaan dat persone wat van hul Callmaker vastelyndiens gebruik maak, vir ’n brief kan aansoek doen waarin die datum waarop die lyn by hul huise geïnstalleer is, aangedui sal word.
Hy het die instaanproses as ’n gaping in die kieswet beskryf en gesê dringende aandag moet hieraan gegee word.
Die registrasie vind tot Saterdag plaas en die verkiesing sal op 16 Maart plaasvind.
Wat die moontlike gebruik van Namdeb se sekuriteitslys van inwoners en besoekers aan die dorp betref, het Haufiku en Both beide gesê dit kan nie gebruik word nie aangesien die wet nie daarvoor voorsiening maak nie.
“Dié lys kan eers ingespan word wanneer die kieslys beskikbaar gestel word om te bepaal of al die geregistreerdes wel al vir langer as 12 maande op die dorp woonagtig is,” het Haufiku gesê.
Inwoners kan by die Sacharias Lewale-saal, die Oranjemund Ontspanningsklub of die Swartkop- saal registreer, terwyl ’n mobiele span sal verseker dat mense in die gevangenis en die hospitaal en inwoners van Bagdad nie die registrasie sal misloop nie.