Verhale uit ’n vergete oorlog

Eu vou morrer em Angola, com arma de guerra na mão (Ek gaan in Angola sterf, met my aanvalsgeweer in my hand), sing 32 Bataljon se swart Angolese troepe in Portugees.

En só het hulle gesterf. 30 jaar gelede. Op 21 Mei 1980 by Savate.

Maar wat onthou die wit leiersgroep wat daar in aksie was?

?Savate! Wat ?n nare plek! Ek sal altyd hartseer wees as ek terugdink aan daai ene. Ons het baie mense verloor. Dit was eintlik ?n bloedbad. Minder van ons en meer van Fapla. Maar ?so what??, sê Leon Grobler skouerophalend.

Horst Heimstadt wat een van die pelotons aangevoer het, wil nie onthou nie.

?Dit is seker my menslike faktor. Hy sny net uit. Jy wil nie daaraan dink nie. Jy los dit agter.??Tiro a tiro? was die naam van die operasie. Die teiken was Savate ? ?n piepklein dorpie aan die wesoewer van die Cubangorivier, 60 kilometer diep in Angola, waar die Angolese weermag (Fapla) ?n goed-ingerigte basis gehad het. Dit was Unita se oorlog.

Maar 32 Bataljon sou onder die grootste geheimhouding hul vuilwerk doen. Sonder lugsteun. Sonder artillerie. Net 81- millimeter mortiere wat vir kilometers deur die bosse saam met al die ander wapens, ammunisie en toerusting gedra moes word.

Die ou storie. In jou moer in stap, uitgeput by die doelwit aankom, veg teen ?n uitgeruste, beter toegeruste vyand, en dan so gou as moontlik terug wees oor die kaplyngrens. Deon (Falcon) Ferreira het die bataljon aangevoer, met Eddie (Big Daddy) Viljoen in ?n verkenningsvliegtuigie om die operasie vanuit die lug te koördineer.

Die grondverkenning is aan Willem Ratte toevertrou.

Dave Hodgson onthou die ordergroep: ?Disturbingly many questions raised as to the enemy?s strength and weaponry were to remain unanswered. We were convinced by the intelligence section that it would be a walk in the park.?

Evert Burger was gereed vir die ergste.

?Ek het gedroom Charl Muller, Heinz Muller, Evert Engelbrecht en Andy Falcus word doodgeskiet. Falcus het nog die vorige aand oefeninge gedoen. Hy was in my peloton. Ek het gewonder of ek hom moes vertel? Maar hoe kon ek? Die volgende oggend toe Falcon ?orders? gee en ek sien die lugfoto van Savate, toe herken ek dit; presies net soos in my droom.?

Daar was van meet af aan probleme. Die Unita-gids het die kluts kwytgeraak. Eers het die grondverkenning skeefgeloop. Falcon kon nie met Willem Ratte kontak maak nie. Toe moes die aanvalsmag ? wat met voertuie nader aan die teiken gebring is ? soek na ?n twee- spoorpaadjie iewers in die bosse wes van Savate. In stikdonkerte deur ruie bosse is in twee enkelgeledere aangemars.

?n Vyandelike voertuig wat onverwags met die paadjie langs kom... Skote wat klap. Die verrassing was daarmee heen.

Die son het al hoog gesit toe die skeipunt bereik is. Die 81-millimeter mortiere het aan die suidekant gaan stelling ingeneem. Die bataljon se ou hande het die stormkompanies aangevoer. Charl Muller met Alpha- en Jim Ross met Foxtrot-kompanie, het die Fapla-basis vanuit die weste aangeval. Sam Heap, met Charlie-kompanie, was aan die noordekant gereed om op die vliegveld en transportpark toe te tas. Twee pelotons sou genoeg wees.

Die derde peloton het by die bataljonhoofkwartier as beskermingselement agtergebly.

09:00.

C.B. Brown se mortierpype het gereed gestaan. Oorkant die rivier in ?n observasiepos was Willem Ratte, reg om die mortiere op teiken te bring. Groot groen bomme het in die pype begin klingel.

?n Paar vyandelike voertuie het uit die suide aangejaag gekom. ?All stations forward!? het die bevel vir die stormkompanies oor die radio?s gekom.

Fapla het geantwoord met 82-millimeter mortiere en 122-millimeter vuurpyle ? vreesaanjaend. By die vliegveld het die vyand met 14,5-millimeter lugafweergeskut op Sam Heap en sy troepe aangelê.

Hulle het skaars 30 meter gevorder, toe sewe man dood of gewond in die sand lê. Heap moes terugval. Daar was onder andere ook vrouesoldate!

Horst Heimstadt ? op Alpha-kompanie se linkerflank ? het drie gesien. Reg voor hom het een van Dave Hodgson se masjiengewere ?n vrouesoldaat wat opgespring het, feitlik middeldeur geskiet. Toe weier die masjiengeweer.

En die vyand skiet in ?n teenaanval twee van Dave se troepe dood. Dave het die radio gegryp en Charl Muller geroep. Tim Patrick, wat die radio beman het, het nie geantwoord nie. Dan maar vorentoe.

Die dooies en gewondes moes agterbly. Die reserwemagte sou hulle afvoer. Toe bereik Alpha-kompanie die loopgrawe, bunkers met oorhoofse dekking. Die bunkers is egter nie behoorlik opgeruim nie en toe Alpha die eerste geboue bereik, het hulle vuur van agter getrek.

Onmoontlik!

Wat sou die reserwemagte besiel om op hulle te skiet?

Iemand het ?n Fapla-uniform sien beweeg. Dave Hodgson, wat nou die bevel van die kompanie by Charl Muller oorgeneem het, het besef die gewondes is in doodsgevaar. Hy het vrywilligers gevra. Heel voor was Attie Roestoff, ?n stoeier, wat die gewondes soos sakke mielies oor sy skouers gegooi en na veiligheid gebring het.

Op die regterflank het Foxtrot-kompanie verwoed geveg. Heinz Muller was een van die eerstes om te sneuwel. Eduard Engelbrecht, sy pelotonsersant, is gewond en saam met die radiobediener agtertoe gestuur.

Heel op die regterflank het Evert Burger dit gehoor. Hy het Andy Falcus, ?n Rhodesiër wat as mediese ordonnans opgelei was, gestuur om Engelbrecht te gaan help. Hy het Falcus nooit weer gesien nie...

Intussen het die vyand noordwaarts begin padgee; party te voet, ander met voertuie. 32 Bataljon was in Savate! Falcon en sy inligtingsoffisier, André Erasmus, het in die dorpie aangekom.

?Waar is Charl??

Niemand het geweet nie. ?Het hulle hom nie gevang nie?? het Falcon gewonder en vier Buffel troepedraers laat naderbring.

Leon Grobler en ?n paar troepe het op ?n verkoolde liggaam afgekom. Hulle kon Tim Patrick net aan sy radio se handstuk (?n swarte in plaas van ?n groene) herken. ?n Wit fosforgranaat teen sy bors is raakgeskiet.

Skielik het skote weer geklap. André Erasmus het inmekaar gesak. Dit was nét te veel vir die troepe. Hulle het die buit neergegooi en uit Savate padgegee. Falcon, Sam Heap, Jim Ross en Lars Ueckerman, het die vlugtende vyand met die Buffels oor die vloedvlakte agternagesit.

Party het in die rivier gespring en is deur krokodille gevang; ander is met die Brownings agterop die Buffels afgemaai of het hulle in stoppergroepe vasgeloop.

Die troepe moes terugkom om die doelwit op te ruim. Rolf Heiser het op Charl Muller afgekom, op ?n kort afstand geskiet toe hy oor ?n loopgraaf gespring het. Rondom het vier troepe gelê.

Een het nog gelewe, maar die dokter kon hom nie red nie. Op Rundu het die dominee en die sektorbevelvoerder, Gert Nel, Hermien Ferreira gaan opklop.

Linda Erasmus was buite met haar drie kinders doenig, toe hulle die nuus van André aan haar oordra.

Daarna is hulle na Charl Muller se karavaan om Zelda te vertel. Falcon het later die aand op Rundu aangekom.

?Hy was so wit soos ?n laken. Hy het my en klein Alwyn vasgegryp. Ek het my man nog nooit so gesien huil nie,? onthou Hermien Ferreira.

Die volgende dag was die aanvalsmag al op pad met die voertuie en tonne uitrusting wat gebuit is toe hulle moes omdraai. Eduard Engelbrecht en ?n troep het makeer.

?Ons het Engelbrecht onder ?n bos gekry, met die troep so half bo-oor hom, asof hy hom wou beskerm. Hulle is op ?n kort afstand geskiet,? vertel Sam Heap.

By die huis het die mense in die koerante gelees van ?81 Swapoterroriste en vyf lede van die Veiligheidsmagte wat in ?n klein veldslag in die operasionele gebied gesneuwel het, toe hulle in ?n groot vyandelike hinderlaag op die grens ingeloop het.?

Niks van Andy Falcus en die nege swart troepe wat ook gesneuwel het nie; 15 in totaal ? 32 Bataljon se grootste verlies op een dag in die hele oorlog. Generaal Constand Viljoen was woedend oor die tipe operasie en die aanwending van sy voorste guerrilla-bataljon.

Die lesse van Eheke, toe die Recces in Oktober 1977 as stormtroepe aangewend was en sewe man verloor het, is nie geleer nie. Trouens, Savate is in die psige van 32 Bataljon ingebrand soos Eheke by die Recces.

En toe, ná die dooies begrawe, die wonde gelek en die nabetragting deur die hoë offisiere verby was, wat toe?

Toe niks.

Dave Hodgson skryf in sy memoirs: ?The only debriefing that we had as far as Alpha Company was concerned, was nil. Medals that should have been given to Horst, Attie, Augusto, Kiote, Peet, Grobbies, Carlos Paulo and Rod, were never even considered. After all Savate never took place. Unita were the victors.?

28 jaar later het ek ?n onverwagte skrywe van ?n soldaat in die Britse weermag ontvang.

?Ek is gebore op 16 Oktober 1980. My ma is aan kanker oorlede. Ek was 15. My ma het ?n geheim van my gehou tot net voor haar dood. Ek en my sussie het nie dieselfde vader nie. My ma het my van my pa vertel. Hulle was albei jonk en hy was op die grens. My ma was bang dat ek in my pa se voetspore sou volg en by die weermag aansluit. My ma het vertel dat my pa op 21 Mei 1980 gesterf het...?

Savate?

Dit was asof een van die dooies opgestaan het.

Maar wie?

?Ek ken nie sy ouers nie en wil nie die lewe vir hulle moeilik maak nie. Al wat ek vra, is om iets van my pa te hê om die leë spasie in my hart te vul. Ek word binnekort ook pa en wil baie graag ?n foto van ouma en oupa hê. Asseblief, help my om deel te kan hê van my pa se lewe.?

Só het korporaal Louis Engelbrecht gepleit. Die res van die storie is baie hartseer. Louis Engelbrecht is deur hel. Maar hy het dieselfde sterk gene as sy pa, Eduard Coetzee Engelbrecht.

Dit, en ?n onwrikbare geloof, het Louis deurgedra. Ek het een van sy oorlede pa se agt susters, Alinda, op Otjiwarongo opgespoor.

Hoe dra ?n mens sulke nuus oor?

Dit het skok, ongeloof, verbystering, ontkenning, selfs woede ontlok. Het ek die regte ding gedoen?

Wat as dit nie waar is nie?

?n Paar maande later het Alinda bevestig: ?My jonger sussie Debbie het al die jare geweet. Daar is ?n kartondoos met briewe. Dit is verskriklik.?

Nóg ?n stukkie waarheid oor Savate, 32 Bataljon, die Grensoorlog, het uitgekom.