
Die president van die DTA, mnr. Katuutire Kaura.
DIE president van die DTA, mnr. Katuutire Kaura, sê probleme soos armoede, korrupsie en die swak onderwysstelsel moet onmiddellik aandag geniet en Namibiërs kan nie meer bekostig om te wag tot 2030 voor daadwerklike oplossings vir die kwessies gevind word nie.
Mnr. Kaura het die uitlatings gemaak tydens die opening van die party se sentrale komiteevergadering in Windhoek en gesê die filosofie van Visie 2030 is loutere snert.
“Visie 2030 is nie haalbaar nie en sou die ontwikkelingsplan faal, sal nie een van die argitekte daarvan meer lewe om daarvoor verantwoording te doen nie. Diegene wat nou die voordeel van Visie 2030 verkondig, sal dan salig ses voet onder die grond op hul rûe lê. Dit is niks minder as ’n illusie waarop die huidige geslag jong mense hul toekoms moet bou nie.”
Volgens mnr. Kaura het die tyd aangebreek om iets daadwerklik aan armoede, werkloosheid, gebrekkige behuising, die swak bestuur van hulpbronne tot beskikking van die Regering, nepotisme, korrupsie en swak onderwys te doen om die struikelblokke uit die weg van ontwikkeling te ruim.
“Vir hoe lank gaan die wit inwoners van Namibië vir die mislukkings van die Swapo regering verantwoordelik gehou word? Hoe kan witmense verantwoordelik gehou word vir die skokkende bedrogskandale waar nou al meer as N$200 miljoen verdwyn het? Waarvoor moet ’n kantoorblok ter waarde van N$21 miljoen vir die vorige president gebou word? Wat wil hy daar doen – hy is dan ’n afgetrede man?”
Volgens mnr. Kaura het die DTA ook ’n plan om werk te skep. Hy het melding gemaak van ’n skrootwerf vir vliegtuie wat beloof om minstens 6 000 nuwe werkgeleenthede te skep.
Verwante nywerhede wat rondom die beplande skrootwerf tot stand sal kom, sal vir minstens nog 9 000 mense werk skep, sê hy. Hy het gesê tot soveel as 100 000 inwoners van die land kan uiteindelik by die projek baatvind.
Mnr. Kaura het die “vrygeborenes” van die land bedank vir die entoesiasme wat hulle aan die dag gelê het deur vir die komende verkiesing in November te registreer.
“Ek glo die jong mense is gereed vir verandering en die DTA sal hulle nie teleurstel nie.”
Hy het ’n beroep op die land se inwoners gedoen om deur middel van hul stemme in die verkiesing vir verandering te veg.
Die sentrale komitee van die DTA het op die vergadering partylede vir die verkiesingslys genomineer en vir hul kandidate gestem. Die partylys met 72 name is na afloop van die vergadering bekendgestel.
Twee politici wat onlangs uit die Republikeinse Party bedank het, mnre. Nico Smit en Daan Holzhausen, se name verskyn ook op die DTA-partylys.