17.06.2009 Veldtog vir strenger wapenwet
AANSOEKE om vuurwapenlisensie word glo te vryelik toegestaan en alle aansoekers en eienaars van vuurwapens moet onderwerp word aan ’n bevoegdheidstoets, terwyl die minimum ouderdom tot 21 jaar verhoog moet word om ’n lisensie te mag bekom.
Dié is een van ’n lys omvattende wysigings aan die land se Wapen- en Ammunisiewet wat deur die Namibiese nie-regeringsorganisasietrust, Nangoftrust en ander belanghebbendes voorgestel word.
Dit word aanbeveel dat die bevoegdheidstoets toegepas moet word op beide huidige lisensiehouers en nuwe aansoekers. Onder die huidige wetgewing is lisensies glo lewenslank geldig, maar dit word voorgestel dat die lisensie elke drie jaar hersien moet word. Na raadpleging kan op vyf jaar ooreengekom word.
Onder huidige wetgewing word die gebruik van iemand anders se vuurwapen slegs toegelaat indien die lisensiehouer teenwoordig is, tensy ’n geskrewe ooreenkoms tussen die twee partye bestaan.
Nangof sê laasgenoemde toegewing moet herroep word aangesien dit oop vir misbruik is.
“Die SADC-protokol verbied ook die uitleen of pand van vuurwapens.”
Verder word aanbeveel dat die bevoegdheidstoets opgestel moet wees om die ongeskiktheid van enige aansoeker te kan uitwys. Die toets moet nie eers geskied nadat misdaad reeds gepleeg is nie.
Die polisie moet die geskiktheid van ’n lisensiehouer kan ondersoek indien hulle vermoed openbare veiligheid word bedreig. Die Nangof-trust beveel aan dat die Inspekteur-generaal van die polisie die bevoegdheid moet hê om ’n persoon ongeskik te verklaar om ’n vuurwapen te besit.
’n Bewys van ongeskiktheid moet in die vuurwapenregister aangeteken word waar al die aansoekers se bevoegdheidsertifikate nagegaan kan word.
Die dra van vuurwapens in openbare plekke moet deur die wet beperk word, met die uitsondering van dienspersoneel, private veiligheidsmaatskappye, en selfs in sulke gevalle moet werknemers verplig word om ’n spesiale draerspermit te besit.
’n Aansoeker moet afgekeur word indien ’n beskermingsbevel kragtens die wet op huishoudelike geweld teen die man of die vrou uitgereik is.
Me. Pauline Dempers van die Nangof-trust het Donderdagaand in Windhoek by die loodsing van die veldtog vir ontwapening teen huishoudelike geweld die lys van wysigingsvoorstelle bekend gemaak. Me. Kaveri Kavari (CoD-lid in die Nasionale Vergadering), me. Rosa Namises (direkteur van Women’s Solidarity), mnr. McHenry Venaani (DTA-lid in die Nasionale Vergadering) en mnr. Hendrik Ehlers, ’n plofstofdeskundige, het almal oor die onderwerp insette gelewer.
Die weeklange veldtog is amptelik deur mnr. Venaani van stapel gestuur. Onder huidige wetgewing kan iemand tydelike magtiging kry om ’n vuurwapen te besit terwyl hy of sy nog aansoek doen om ’n lisensie.
“Dit is ’n ernstige skuiwergat in die wet. Ons beveel aan dat dit herroep word,” het me. Dempers aangedring.
Sy sê die veldtog vir die ontwapening in gevalle van huishoudelike geweld dalk ambisieus klink, maar onlangse suksesse toon dat verandering moontlik is. Misdade wat met vuurwapens gepleeg word, neem nie noodwendig af nie, maar onlangse statistieke dui daarop aan dat misdrywe teen vroue wat met vuurwapens gepleeg word, effens afgeneem het.
Die sukses is te danke aan die tipe veldtog asook die operasies van die Namibiese polisie, het me. Dempers gesê. Sy het gesê vuurwapens kan as werktuie vir intimidasie gebruik word om fisiese, seksuele en sielkundige geweld teen vroue te pleeg.
Vroue is wêreldwyd in situasies waar hul liefdesvennote vuurwapens gebruik om hulle tot oorgawe te dwing. Vuurwapens maak huishoudelike geweld dodelik. ’n Verdere verband tussen huishoudelike geweld en gewere is dat ’n vuurwapen in die huis selde vir vroue se beskerming is.
Vuurwapens wat wettig besit word, is ewe gevaarlik as vuurwapens in onwettige besit. Volgens haar het navorsing in Amerika getoon dat ’n geweer in ’n huis die algehele risiko met 41 persent vermeerder dat iemand in die huis vermoor kan word en vir vroue is die risiko van dood drie keer groter.
|