Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

3.02.2010

Veldtog teen masels

• 45 000 in Kaokoland ingeënt
• Pohamba roep weermag se hulp in

© Ronelle Rademeyer
Dié elfjarige seun is Maandag met komplikasies weens masels in die spesiale tenthospitaal vir maselspasiënte op Opuwo opgeneem. Dertien pasiënte word tans daar behandel. By die seun is mnr. Alfeus Tjiveze, ’n verpleër.
IN die grootste nasionale gesondheidsveldtog sedert die poliouitbreking gaan die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste en die Namibiese weermag van aanstaande week toesien dat die meer as 45 000 inwoners in die maselsgeteisterde Kaokoland teen dié gevreesde kindersiekte ingeënt word.

Die opdrag vir dié reuseveldtog waarin gesondheidspersoneel uit al 13 die streke sowel as lede van die weermag ingespan gaan word, kom direk van Pres. Hifikepunye Pohamba.

Altesaam 1 253 inwoners van die groter Opuwo-gebied is die afgelope vier maande met masels gediagnoseer terwyl 15 sterftes al aangemeld is.

Die Gesondheidsminister, dr. Richard Kamwi, het gister op Opuwo bekend gemaak dat “’n sterk tegniese span” reeds vandag op dié dorp sal aankom om die direkteur van gesondheid in die Kunene-streek, me. Linda Namumdunga, met die reëlings by te staan.

Alle inwoners ouer as ses maande sal van Dinsdag, 9 Februarie tot Maandag, 15 Februarie, teen masels ingeënt word. Net swanger vroue sal weens die moontlike gevare van die entstof vir die fetus oorgeslaan word.

Dr. Kamwi het die gebied gister saam met die Adjunkminister van Verdediging, mnr. Victor Simunja, besoek om met die goewerneur van Kunene, mnr. Dudu Murorua, streekraadslede, tradisionele leiers, nie-regeringsorganisasies, kerke en ander rolspelers oor die voorgenome massa-inentingsveldtog te vergader.

Mnr. Simunja het bekend gemaak dat die weermag reeds begin het om verpleegpersoneel, ambulanse en ander mannekrag na die gebied te stuur.

Volgens dr. Kamwi is besluit om tot hierdie stap oor te gaan nadat hy verlede Dinsdag ’n omvattende verslag oor dié gesondheidskrisis in die noorde van die Kunene-streek aan die Kabinet voorgelê het.

Dr. Kamwi sê anders as in ander gesondheidsdistrikte waar ook maselsgevalle aangemeld is, sukkel die Ministerie om die epidemie onder beheer te kry omdat inwoners in dié gebied nie immuniteit teen die siekte het nie.

In die ander distrikte raak die siekte meestal net kinders jonger as vyf jaar, terwyl mense van alle ouderdomme in hierdie gebied kwesbaar is.

“Hierdie veldtog is nodig omdat ons besef het die mense in Kaokoland se immuunstelsels bied min of geen beskerming teen masels nie.”

Die rede daarvoor is dat ouers oor baie jare nie die erns daarvan besef het om hul kinders vir roetine-immunisering te neem nie.

“Van Sondag sal Opuwo die sentrum van aktiwiteite wees. Elke inentingspan sal ’n gids hê wat die gebied goed ken. Ons móét die hele Opuwo-distrik inent, selfs die mees afgeleë dele.”

Hy het beklemtoon dat as almal saamwerk, daar geen rede is waarom die Ministerie nie die masels-epidemie in bedwang kan bring nie.

“Ek wil nie hoor van kragopwekkers wat nie werk nie of van ander probleme wat opduik nie. Elkeen moet sy deel doen.”

Die gebrek aan koelgeriewe by afgeleë klinieke is vroeër as een van die oorsake van gebrekkige roetineimmunisering uitgewys. Entstof moet te alle koud gehou word.

Die Minister het voorts ’n beroep gedoen op media-instansies om as sleutelrolspelers in die verspreiding van inligting, die Ministerie se hand te vat en seker te maak almal is oor die inentingsveldtog ingelig.