7.10.2008

Vals ‘priesters’ ook in RSA gesoek

DIE twee vermeende pedofiele wat sedert verlede maand op Tsumeb in aanhouding is, het moontlik na Namibië uitgewyk om klagte van bedrog teen hulle in Suid-Afrika te ontduik na beide vroëer reeds tronkstraf uitgedien op klagte van onder meer sodomie, bedrog, diefstal en die onwettige besit van ‘n vuurwapen.

Janric Andrew Grey (45) en Jonathan Frank Lissar (42), is verlede maand op Otjiwarongo in hegtenis geneem is na hulle hulself as sendelinge voorgedoen het ten einde geld en goedere uit mense te swendel. Hulle het blykbaar twee minderjarige meisies onder valse voorwendsels vir ‘n naweek weggeneem waar die kinders na bewering seksueel misbruik is.

Die twee mans word tans aangekla van die verkragting van die twee meisies van 13 en 14 jaar, maar meer klagte kan op moontlik nog op ‘n besluit van die Aanklaer- generaal bygevoeg word. ‘n Onberispelike bron uit Suid- Afrika het teenoor Republikein bevestig dat beide mans tans in Pretoria op bedrogklagte gesoek word.

Die twee mans is vasgekeer na goedhartige sakelui op Otjiwarongo wat deur hulle om die bos gelei is om akkommodasie, kos en geld vir hul sendingtog te skenk, agterdogtig geraak het oor hul toenemende eise vir onder meer fietse en ‘n videokamera. Dit word nou vermoed dat hulle die kamera wou gebruik om seksuele dade met die kinders op film vas te lê en die fietse om hul stilte te koop.

Die twee het met ‘n geleende motor vanaf Windhoek na Otjiwarongo gereis, na hulle vanuit Suid- Afrika tot in Windhoek geryloop het. Ná hulle iemand in Windhoek oorreed het om ‘n motor aan hulle te leen en brandstof te borg vir die “sendingwerk” is hulle na die Noorde.

Hier het die twee het by verskeie skole in die Otjiwarongo omgewing “sendingwerk onder die jeug” gedoen deur praatjies te lewer en selfs saalopeninge waar te neem. Hulle sou glo aanvanklik vier jong seuns, wat een of albei van hulle ouers verloor het, saamneem op ‘n naweek na Etosha, maar het op die ou einde die twee jong meisies saamgeneem.

‘n Familielid van een van die meisies het ‘n sakeman op Otjiwarongo na die twee mans se “wegbreeknaweek” in kennis gestel van hul beweerde dade met die kinders, waarna ‘n polisielokval vir die twee gestel is.

Janric Andrew Grey het reeds gedurende 1993 met die gereg gebots toe hy op Mosselbaai in hegtenis geneem is na hy glo twee elfjarige meisies onsedelik aangerand het. Hy was ten tyde van die misdaad uit op borgtog op die beweerde verkragting van ‘n 12-jarige verstandelik gestremde meisie. Die twee moet weer op 20 Oktober in die hof op Tsumeb verskyn.