8.09.2010 Vakbonde vra vir GIPF-ondersoek
 Die topbestuur van die NUNW tydens gister se mediakonferensie.
SWAPO se vakbondfederasie gaan by President Hifikepunye Pohamba aandring om nog voor die November-verkiesings ’n presidensiële kommissie van ondersoek aan te stel om die massiewe beleggingskandaal by die GIPF tot op die been oop te kloof.
Die koppe van die staatspensioenfonds se hele bestuur en raad van trustees moet volgens die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) summier rol.
Almal wat ’n aandeel aan die vergrype gehad het, moet volgens mnr. Evilastus Kaaronda, die beweging se sekretaris-generaal, sonder uitsondering aan die pen ry. Die NUNW eis voorts dat betrokkenes individueel en gesamentlik vir elke pennie moet pa staan wat in die water beland het.
Die vakbondkongres het die naweek sy diepe bekommernis uitgespreek oor die “vermiste miljoene” by die GIPF en die Regering se gebrek aan optrede.
Volgens mnr. Kaaronda is die Regering se “onverstoorbare” houding onverstaanbaar terwyl die hoogste besluitnemers al jare van die verdoemende uitslae van ’n ondersoek deur die waghond vir finansiële instellings, Namfisa, bewus is.
Volgens mnr. Kaaronda sal die NUNW die Regering ’n redelike kans gun om in te gryp, maar het werkers al heeltemal te lank gewag. As die Regering nie wil luister nie, is massabetogings volgens hom maar net een van die moontlike alternatiewe.
Volgens mnr. Elia Manga, die nuwe president van die federasie, sal sy bestuur ’n plan van aksie opstel om te verhoed dat die Regering werkers se eise oor die GIPF in die doofpot stop.
Hoewel mnr. Manga by gister se aankondiging van die besluite van die naweek se NUNW-kongres die pensioenfondsdebakel uit die komende maande se verkiesingspolitiek wou hou, is mnr. Kaaronda vasbeslote dat optrede nie kan wag tot nadat Namibiërs die stembus besoek het nie.
“Dit is ’n kritieke tyd,” het mnr. Manga erken.
“Ons gaan in verkiesings in. Dit is ’n emosionele kwessie. Ons kyk nie die sensitiewe en belangrike aard van die saak mis nie,” het die NUNW-president gesê, maar volgens mnr. Manga moet die GIPF-tameletjie nie ’n “breër visie” vir Swapo en die party se verkiesingsveldtogte vertroebel nie.
Hy reken die polemiek sal weinig invloed op uitslae by die stembus hê. Die NUNW-kongres het besluit dat werkers in geen vorm die uitkontraktering van die GIPF se beleggingspligte aan ’n klein groepie besluitnemers soos betrokkenes by die Kuleni-plan sal duld nie. ’n Beleid is ook aanvaar wat streng, nuwe reëls neerlê vir vakbondleiers se sitting op direksies en die bestuur van beleggings uit vakbondfondse. Beide mnre.
Manga en Kaaronda het benadruk dat verkose leiers en sakelui in die vakbondbeweging heeltemal verskillende en dikwels teenstrydige pligte het.
“Ons is verkies om ons werk te doen,” het mnr. Kaaronda gesê.
Vakbondleiers wat besigheid wil doen, moet volgens hom liefs eenkant bly en nie toelaat dat hul belange die federasie se ware taak ondergrawe nie. Sulke botsende belange het volgens mnr. Kaaronda reeds heeltemal te veel spanning en konflik veroorsaak.
Die beleid skryf voor dat elke vakbondleier voortaan op ’n maksimum van twee direksies mag dien.
Terugvoering aan die NUNW en die verkryging van ’n mandaat om direksiebesluite te ondersteun – soos wat nie by die GIPF gebeur het nie – sal verpligtend wees. Sittingsfooie sal na die vakbonde vloei, wat sal besluit of ’n direksielid geregtig is op vergoeding en watter vorm dit sal aanneem.
Die beleid skryf voor dat vakbondgeld net belê sal word in maatskappye met uitnemende gedragsrekords. ’n Taakspan sal vooraf ondersoek na moontlike sakevennote se getuigskrifte instel.
Vakbondlede sal voorts toegang hê tot ’n ope register oor vakbondbeleggings, opbrengste daaruit en die voordele vir werkers. Minstens 30% van beleggingsopbrengste uit vakbondgeld sal in ’n ondersteuningsfonds gestort word om lede tydens stakings en afleggings te help beskerm.
In van die kongres se ander besluite is die Regering versoek om alle elektrisiteitsverspreiders in die streke (RED’s) toe te maak en die funksie aan munisipaliteite terug te besorg.
|