Vakatures in onderwys eerste met opgeleide werkloses gevul

STREEKKANTORE van die Ministerie van Onderwys is besig om onderwysers in vakatures aan te stel ten einde opgeleide, werklose onderwysers by die hoofstroom te laat inskakel. In ’n verklaring deur die Ministerie sê mnr. Vitalis Ankama, die permanente sekretaris, dat alle streekdirekteure opdrag gegee is om te verseker dat slegs opgeleide onderwysers in die honderde vakatures aangestel word.

“Indien geen gekwalifiseerde onderwyser beskikbaar is om die pos te vul nie, sal die kortlys van ongekwalifiseerde en ondergekwalifiseerde onderwysers geraadpleeg word. “Intussen versoek ons alle werklose, opgeleide onderwysers om kontak te maak en te hou met streekdirekteure om hulle bereidwillig te verklaar om poste te vul,” het mnr. Ankama gesê.

Dié reaksie spruit uit mediaberigte in die afgelope maand wat verslag gedoen het oor meer as ’n honderd Nigeriese onderwysers wat vanaf aanstaande jaar in Namibië sal diens doen. In een berig het die Nigeriese hoë kommissaris in Namibië, prins Adegboyega Ariyo, gesê dat 160 onderwysers aanstaande jaar uit sy tuisland sal kom om wiskunde en skeikunde aan te bied.

In die verklaring sê die Ministerie dat Nigerië die perde te vroeg voor die wa gespan het aangesien hul ooreenkoms behels dat alle beskikbare opgeleide Namibiese onderwysers eers aangestel moet wees alvorens die land hulp van Nigerië kan verwag. “Nigerië en Namibië het op 25 Oktober ’n ooreenkoms vir tegniese menslike hulpbronbystand onderteken met Nigeriese vrywilligers wat die vakatures sal vul.

Die versoek vir vrywilligers sal egter eers aan die Nigeriese owerheid gestuur word wanneer die behoefte ontstaan,” lui die verklaring.