5.12.2011 Vakansiepad open sy tol
 Die wrakstukke van die twee voertuie wat gisteroggend in die noodlottige ongeluk wes van Usakos betrokke was. Drie mense het op die toneel gesterf.
DIE eerste lewensverliese in die vakansieseisoen as gevolg van padongelukke in die Erongostreek is gister aangemeld. Drie mense het in ’n ongeluk gesterf wat sowat 40 km wes van Usakos op die hoofweg na Swakopmund gebeur het.
Twee van die oorledenes, blykbaar bekendes op Hentiesbaai, was in ’n ligte Duitse motor van Windhoek op pad na die vakansieoord. Die ander oorledene was in ’n ligte vragmotor op pad na Windhoek. Name was teen druktyd bekend, maar is weerhou omdat die families nog nie volledig ingelig was nie.
Op die ongelukstoneel het dit gelyk of een van die bestuurders beheer verloor het en dat dit die motors tromp-op laat bots het Nog twee insittendes van die bakkie is met beserings in die hospitaal op Usakos opgeneem. Een se beserings was ernstig en die pasiënt sou waarskynlik gisteraand na Windhoek oorgeplaas word. Die tweede beseerde se toestand het nie kommer gewek nie. •
’n Man van 65-jarige ouderdom is op Vrydagaand noodlottig beseer toe sy motor buite Rehoboth omgeslaan het, berig Marianne Pretorius.
Mnr. Cornelius Platt was die enigste insittende toe hy na ’n plaas onderweg was. ’n Entjie buite Rehoboth het die linker voorwiel van sy sedanmotor gebars en die kar het omgeslaan. Platt het talle beserings opgedoen waaronder ernstige kopbeserings. Hy is na die hospitaal op Rehoboth geneem waar hy later die aand beswyk het.
|