25.07.2008 Uitstapfaksie reik CoD voorwaardelik die hand
DIE visepresident van die Congress of Democrats (CoD), me. Nora Schimming-Chase, sê sy en haar groep wil met die president van die party, mnr. Ben Ulenga, en sy faksie versoen, maar kan in dié proses nie die beslissing van die Hoërhof minag nie.
Die hof het vroeër vandeesmaand beslis dat mee. Schimming-Chase, Pauline Dempers, Elma Dienda, mnre. Moses Katjiuongua en Herbert Schultz steeds CoD-lede is en na die posisies moet terugkeer wat hulle op 11 Augustus beklee het toe mnr. Ulenga besluit het om hulle uit die party te skop.
Voorts moet die status quo van die party soos vóór die Keetmanshoop-kongres behou word en die CoD moet binne vyf maande ná die hofbeslissing ’n kongres hou om die party se ampsdraers te verkies. Die twee faksies het hierdie week vergader en kon weer nie ooreenstemming bereik oor die hofbeslissing, wat glo verskillend deur mnr. Ulenga en me. Schimming- Chase geïntepreteer word nie.
“Mnr. Ulenga is van mening dat die hofbeslissing net van toepassing is van die dag wat dit gelewer is, terwyl ons reken dat dit terugdateer tot vóór die Keetmanshoop-kongres. “Dit beteken dus dat alle besluite en aanstellings wat ná die kongres deur mnr. Ulenga gemaak is, ook deur die hof as ongeldig verklaar is.
Ons wou dus die volle implementering van die hofbeslissing bespreek en ook die jongste finansiële state van die party onder oë gehad het. Dit is ons geweier,” sê me. Schimming-Chase. Sy sê mnr. Ulenga en sy groep, wat me. Rosa Namises ingesluit het, na wie hy gereeld as sekretaris-generaal van die party verwys het, het ook ander aspekte soos die besoek van leiers aan die streke en ’n konferensie vir raadslede bespreek waaraan hulle nie deelgeneem het nie.
Hulle het eers uit die vergadering gestap met die agendapunt “enige ander “Ons wil net gehoor gee aan die hofbeslissing en is bereid om ter wille van die party met mnr. Ulenga en sy groep te versoen. Dan moet kwessies soos onder meer die aanstelling van me. Namises as sekretaris-generaal van die party en die aanstelling van mnr. Tsudao Gurirab as hoofsweep in die Nasionale Vergadering egter reggestel word.
Voorts kan die koukus nie uitgebrei word met mense soos me. Namises, mnr. Uno Hengari en Tangeni Nuukwawo nie, maar moet dieselfde mense daarop dien,” het me. Schimming-Chase gesê. ’n Regsgeleerde en diplomaat wat nou opleiding aan parlementslede verskaf, prof. Earl Taylor, het voor die hofbeslissing as bemiddelaar tussen die twee groepe gedien.
Volgens hom was beide groepe gewillig om te versoen, maar moes mnr. Ulenga ná hy glo met van sy ondersteuners oorleg sou pleeg na hom terugkom oor die kwessie. Hy het versuim om dit te doen.
Volgens sy interpretasie van die hofbeslissing is alle besluite en aanstelling na die Keetmanshoopkongres ongeldig. “Die enigste manier hoe die twee groepe met mekaar kan versoen is om terug te gaan tot voor die probleem ontstaan het,” het prof. Taylor gesê.
|